BRIEF 135: Wat ‘n boer nie vergeet nie
Liewe Leser
Verlede jaar het Solidariteit Helpende Hand se Wes-Kaap-streek mooi stories oor hul gemeenskapsprojekte gedeel. Een storie het in die besonder vir my uitgestaan ...
By Huis Jan Lange het mense, jonk en oud, met en sonder gestremdhede, hand aan hand saam begin stap – letterlik! Die doel van daardie stap-geleentheid was om die gemeenskap weer bymekaar te bring. En dit het.
Tydens die geleentheid was dit vir baie mense duidelik dat elkeen ook sy eie lewenspad stap en dat oom *Johan se storie boekdele daarvan spreek. Dié oom het alzheimers en het vir die eerste keer in maande uit sy kamer gekom om saam met sy vrou aan die staptog deel te neem.
Tot almal se verbasing het oom *Johan skielik weer skape begin aanjaag. Hard, vol oorgawe en natuurlik met 'n glimlag. Nie almal kon die skape sien nie, maar mense wat sy storie ken, het gou agtergekom dat hy in 'n ander wêreld was – terug op sy plaas en tussen sy vee. Want sien, oom *Johan het dalk alzheimers, maar hy bly 'n boer en 'n boer se lewenswerk en geloof los hom nie sommer nie.
Dit het hy baie duidelik vir ander gemaak toe hulle 'n kerk in die verte gesien het en hy daarop aangedring het dat hul almal dadelik kerk toe moet gaan – ongeag of dit 'n Sondag is of nie. Helpende Hand se vrywilligers het met Job se geduld verduidelik dat hul eers die staproete moet voltooi, wat hy toe gedoen het.
Ja, liewe Leser, 'n boer vergeet nie sommer waar sy seëninge vandaan kom nie en oom *Johan se storie kan daarvan getuig. Selfs al verander die lewe, is daar sekere dinge wat vas bly. Al word die herinneringe hoe vaag ook al, bly God teenwoordig met elke tree wat ons gee en dit sal nooit verander nie.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5