NSFAS-sudiehulp: Net 3 weke oor vir studente om aansoek te doen

Argieffoto

Behoeftige studente wat deur die die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) wil aansoek doen om studiehulp vir 2019, het nog net drie weke oor om dit te doen.

Dit is die dringende boodskap van Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS), aan enige behoeftige matrikulant of student wat volgende jaar graag aan ’n openbare universiteit of ’n beroepsgerigte opleidingskollege wil gaan studeer.

Volgens Pieterse moet studente kennis neem dat die sluitingsdatum op 30 November 2018 is.

Behoeftige studente wat aan die volgende kriteria voldoen, kwalifiseer vir NSFAS-studiehulp:

  • ’n Suid-Afrikaanse burger is;
  • ’n Voornemende student is wie se huishouding se gekombineerde jaarlikse inkomste minder as R350 000 per jaar beloop;
  • ’n SASSA-toelaag ontvang;
  • Vir die eerste keer vir ’n voorgraadse kwalifikasie by ’n openbare universiteit wil registreer, of reeds geregistreer is by ’n openbare beroepsgerigte opleidings (TVET)-kollege vir sekere goedgekeurde programme;
  • Aansoek wil doen om by ’n openbare universiteit of TVET-kollege vir ’n tersiêre kwalifikasie te studeer;
  • Alreeds ’n geregistreerde universiteitstudent is wie se huishouding se gekombineerde jaarlikse inkomste minder as R122 000 per jaar beloop;
  • Minstens graad 10 geslaag het vir toelating by TVET-kolleges;
  • Minstens graad 12 geslaag het vir toelating tot ’n openbare universiteit;

“Ons wil behoeftige studente en matrikulante aanmoedig om betyds aansoek te doen en sodoende hul studie- en toekomsdrome te laat waar word. Studente moet ook kennis neem dat NSFAS nie studiehulp dek by private tersiêre instellings nie,” het Pieterse gesê.

Studente kan aanlyn aansoek doen by https://my.nsfas.org.za/mynsfas/selfservice.html. Vir meer inligting, bel NSFAS by 08000 67327 of besoek hul webblad by www.nsfas.org.za