Nuus: Helpende Hand stig noodfonds vir Limpopo-vloedslagoffers

1969214_10203265556980149_749967994_nSolidariteit Helpende Hand het ’n noodfonds op die been gebring vir Limpopo-inwoners wat deur die onlangse vloede geraak is, met spesifieke fokus op die inwoners van Bela-Bela en Lephalale.

’n Tweede damwal het gister by die Thaba Monate-wildreservaat meegegee wat massas water in Bela-Bela se strate laat afstroom het. Volgens die media moes meer as 70 mense per helikopter uit die watermassa gered word. Reddingswerk deur die weermag, plaaslike polisie, munisipaliteit en die provinsiale rampbestuursentrum is glo steeds aan die gang. Inwoners van Bela-Bela het erge skade gely deurdat huishoudelike inhoud, besigheidsvoorraad en voertuie onder water is.

Gedurende die eerste tien dae in Maart het ongeveer 159 mm reën in Lephalale geval wat glo die swaarste reënval in die gebied in 14 jaar is. Meer as 700 huishoudings word deur die vloede geraak.

Die geld in Helpende Hand se noodfonds sal aangewend word vir noodverligting soos deur Helpende Hand geïdentifiseer.

Helpende Hand doen ’n beroep op die publiek om by te dra tot die noodfonds deur “RAMP” na 38969 te SMS en só R10 tot die fonds by te dra.

Skenkings kan ook in die volgende rekening inbetaal word:

Solidariteit Helpende Hand

FNB

Rekeningnommer: 62 331 445 503

Tjekrekening

Takkode: 250655

Verwysing: Noodfonds

Vir meer navrae oor die noodfonds, skakel gerus vir Marianthie van der Walt, Helpende Hand se streeksorganiseerder in Limpopo, by 082 741 7858.