Nuusbrief: Daardie vierletterwoord

Deur Neels van Jaarsveld

Foto1Dit is ʼn eienaardige affêre maar dis tog so eenvoudig. Dit kan in klein maat of in groot maat geskied. Dit kan mense se dag maak en selfs hul lewe verander. Dit kos niks maar beteken so baie. Dit kan uitgedeel word maar steeds behou word. Oseane daarvan is beskikbaar maar tog is dit skaars. Dit is nie iets waaraan jy kan raak nie, maar tog kan dit jou diep aanraak.

Ek praat van HOOP – en om dit vir iemand te kan gee is een van die beste geskenke ooit.

Ek was al gelukkig genoeg om ʼn verskil in iemand se lewe te maak (of ek hoop ek kon wel). Dit kan ʼn gratis ete of ʼn skooltas vol skryfbehoeftes wees wat net daardie ekstra hupstoot (of hoopstoot) gee. ʼn Sokkerbal, ʼn lewensles, advies, ʼn glimlag, ʼn drukkie, ʼn foto, ʼn handdruk, ʼn gelukwensing, ondersteuning kan ook iemand se dag maak.

Die blote wete dat daar iemand is wat omgee, is al klaar ʼn goeie begin en met hoop aan jou sy kan enige berg geklim word; die grootste branders gery word; die vreesaanjaende “monster” getem word en die woedende waters van ’n rivier in vloed oorgesteek word.

Help die persoon wat nie so bevoorreg soos jy is nie. Verleen hulp waar jy kan. Deel jou toebroodjie met jou maatjie wat dalk honger is maar te skaam is om te vra. Gee die ou T-hemp wat jy nie meer dra nie weg vir iemand wat dit wel kan gebruik. Respekteer ouer garde en die natuur.

Glimlag vir iemand. Sommer nou. Toe, ek “dare” jou. (Maak net seker dis nie iemand se vrou nie!) Deel jou passie, deel jou liefde, deel jou hoop. Elke bietjie help.

Daar sal altyd hoop wees – dit weet ek. Ons moet dit net saam uitdeel.

Hope hoop vir 2014 en mag die volgende jaar uit sy nate bars van geluk en voorspoed.

Alles van die beste.
Neels van Jaarsveld