Skip to content

Nuusbrief: Helpende Hand reik uit na behoeftige gesin

Deur Grietjie Prinsloo

Helpende Hand se Roodepoort-tak het einde verlede jaar ingespring om een gesin se Kerstyd so bietjie meer geseënd te maak.

Dié tak in Gauteng-Suid het die eerste keer van Ouma Susan* en haar twee kleinkinders, Ruan* (14) and Marike* (9), se storie te hore gekom toe ’n vriendin hul omstandighede aangemeld het.

Karien Stark, voorsitter van die Helpende Hand Roodepoort-tak, vertel dat Ouma Susan saam met haar kleinkinders in die Kagiso informele nedersetting moes intrek nadat haar seun saam met sy vriendin Luipaardsvlei toe verhuis het. Die kinders was aanvanklik aan hul eie genade oorgelaat sonder kos of geld, maar Ouma Susan sorg nou vir hulle met haar karige staatspensioen. Alhoewel die kinders steeds kontak met hul pa het, lewer hy geen finansiële bydrae tot hul opvoeding nie, sê Karien.

Die gesin se moeilike omstandighede het nie vir Ouma Susan ondergekry nie. Sy het begin brood bak en dit aan die mense in haar gemeenskap verkoop. Sy het ook begin met die hand naaldwerk doen, soos om klere te herstel  en gordyne te maak.

“Helpende Hand het haar lewe verander deur aan haar ʼn naaldwerkmasjien te skenk,” vertel Karien. “Sy het dit met trane in haar oë ontvang. Ons het vir die eerste keer gesien dat vreugde iemand se oë van grys na blou laat verander.”

Die Helpende Hand Roodepoort-tak het gehelp om vir die gesin ’n yskas te koop en het twee matrasse, ’n televisie, mat, kos en nog materiaal vir Ouma Susan se naaldwerkprojek bymekaargemaak. Die gesin het ook ’n kontantdonasie van R1 200 van ’n borg ontvang vir kruideniersware.

Die tak het intussen daarin geslaag om vir Ruan in ’n hoërskool plek te kry. Hulle sal die gesin nou verder bystaan in ’n poging om vir hulle blyplek nader aan die kinders se skole te bekom.

*Skuilname is gebruik om die gesin se identiteit te beskerm.