Skip to content

Nuusbrief: Helpende Hand Wes-Kaap woeker met verskeie projekte

Deur Mariné Jacobs en Grietjie Prinsloo

Foto6Solidariteit Helpende Hand se agt takke in die Wes-Kaap is druk besig met verskeie projekte om Afrikaner-armoede te verlig, te voorkom en te verbreek.

Volgens Erika Botha-Rossouw, die Helpende Hand-streeksorganiseerder in die Wes-Kaap, lê Bemagtig-ʼn-kind-projekte die takke baie na aan die hart. “Ons takke in Hermanus, Riebeeck-Kasteel, Durbanville, Melkbosstrand, Paarl, Kraaifontein, Wellington en Helderberg neem almal deel aan die Bemagtig-ʼn-kind-projek,” sê Botha-Rossouw.

“Die takke ondersteun kinders van voorskool tot hoërskool met naskoolse sorg, spraakterapie, arbeidsterapie, skryfbehoeftes, skoolklere en sportklere en -toerusting. Ondersteuning word ook gegee aan ‘n laerskoolleerder wat gehoorprobleme het. Die streek borg sy gehoorapparaat om hom in staat te stel om ‘n hoofstroom skool by te woon.”

Die Helpende Hand Helderberg-tak is steeds besig met herstel- en opruimingswerk by Kays- karavaanpark wat verlede jaar onder ʼn vloed en ʼn brand deurgeloop het.

Die Wes-Kaap-streek en talle vrywilligers van die Helderberg-tak werk sedert Oktober verlede jaar by die Kays-karavaanpark om die inwoners by te staan. Groot skade is by die karavaanpark aangemeld nadat die terrein oorspoel het weens die storms wat die Wes-Kaap getref het en die Lourensrivier, waar Kays geleë is, se walle oorstroom het. ʼn Tweede ramp het die park in Desember getref toe ʼn elektriese kortsluiting veroorsaak het dat agt hout- en steenhuise afgebrand het en nog twee huise brandskade en heelwat waterskade opgedoen het.

Helpende Hand en die gemeenskap het reeds die inwoners voorsien van tente, kos, klere, beddegoed, tweeplaat-gasstofies, gasbottels, gasreguleerders, gaspype, meubels en kombuisware soos deur die inwoners versoek.

As deel van fase 2 het Helpende Hand aan die gesinne wat geraak is, se kinders skoolklere, skoolskoene, tekkies, tasse, skryfbehoeftes en handboeke geskenk. “Ons het ook met die  Kaapstad-munisipaliteit se rampbestuursentrum gereël vir die verwydering van die brandrommel en ook gereël dat grond en 60 m3 sand by die kamp afgelewer word om die terrein weer gelyk te maak,” sê Botha-Rossouw.

Sy verduidelik dat die  Kaapstad-munisipaliteit se rampbestuursentrum tien sinkhuisies van 3 x 3 m² aan persone wie se huise afgebrand het, geskenk het en Helpende Hand het onderneem om sink en pale aan die inwoners te skenk sodat die huisies vergroot kan word na 6 x 3 m².

“Daar is tydens finale vergaderings met personeel in verskeie afdelings van Kaapstad-munisipaliteit vasgestel dat daar niemand in Kaapstad –munisipaliteit is wat bereid is om toestemming vir die oprigting van huisies by Kays-karavaanpark te gee nie, omdat dit ’n oortreding van die soneringsbepalings sal wees en ook omdat dit privaat grond is,” sê Botha-Rossouw. “Helpende Hand Wes-Kaap besef dat dit noodsaaklik is om die tydelike noodhuisies te vergroot sodat die gesinne met hul kinders wat nog in tente is, voor die reënseisoen in die huisies gevestig kan word. Met die eienaar van die grond se goedkeuring het Helpende Hand Wes-Kaap onderneem, en is Kaapstad-munisipaliteit en die burgermeester in kennis gestel, dat ons van einde Februarie af voortgaan met die aflewering van agt 3 x 3 m²-IBR huisies aan die gesinne, wat die totale grootte van die tydelike noodbehuising op 27 m² te staan sal bring. Sover vasgestel kan word, voldoen die materiaal en die grootte aan die standaard van bouregulasies vir tydelike noodbehuising.”

Sy sê verder dat ’n assesseringspan van Helpende Hand Helderberg tans besig is om ’n verslag saam te stel oor die behoeftes van al die inwoners waarna klere, komberse en meubels vanaf verskeie bergplekke op aanvraag voorsien sal word.

Intussen ondersteun die Helpende Hand Melkbosstrand-tak tans ʼn belowende jong Sol-tech student wat vir meulmaker studeer, vertel Botha-Rossouw. “Sy praktiese opleiding vereis dat hy vir 52 weke by ʼn maatskappy geplaas word. Die tak wil graag die student in die Wes-Kaap by ‘n instansie of maatskappy plaas waar hy sy praktiese tegniese opleiding kan opdoen.” As iemand daarmee behulpsaam kan wees, kontak asseblief vir Erika Botha-Rossouw by 072 195 6581 of [email protected].