Skip to content

Nuusbrief: Kinders moet net kinders wees

Deur Blackie Swart

Blackie_Swart copy2In my kleintyd was daar nie “super heroes” nie maar my pa en my nefie, Christo, was my helde.  Ek kon amper nie glo dat een mens so sterk kon wees nie; in verwondering het ek gekyk hoe Pa ʼn swaar voorwerp met die een hand vasvat en dan die tang behendig met die ander hand hanteer.  Die are het so gestáán op sy voorarms!  Alleen in my kamer het ek dan “armpies gemaak” en na my spiere gekyk en gewonder of ek ooit so sterk sou wees.

In daardie kragman het daar egter ʼn omgee-hart geklop.  Ek onthou goed hoe hy altyd tyd gemaak het vir die plaaswerkers se kinders en met hulle geselsies aangeknoop het. Hy het vir hulle vrugte in die huis gaan haal en gevra hoe dit by die skool gegaan het.  In later jare het ek sommetjies gemaak en uitgewerk dat hy ook hul skoolgeld moes betaal het.

Soos die tyd aangestap  en ek in my lewenskoene gegroei het, het ek die ellende in ander mense se lewens begin raaksien. Ek het  aan my kinderdae teruggedink en waardering gehad vir wat my ouers vir my kon doen.  My kinderdae was sorgeloos en dit het gelyk asof ons alles in oorvloed gehad het. Die feit dat my skoolklere eers aan iemand anders behoort het, toe gelap, gestop of verstel is, het geensins laat blyk dat ons arm was nie.  Dit het so gehoort, en as daar op ons neergekyk is, was ek nie daarvan bewus nie.

Maar tye het verander.  Lewenskoste het die hoogte ingeskiet, salarisse kon nie bybly nie en werkloosheid het toegeneem. Kinders is nog kinders, maar die gaping tussen ryk en arm het gerek en dan is daar nog altyd hierdie maatstaf waaraan laasgenoemde gemeet word … besittings!

Daar is soveel kinders wat nie eens “brood en jam” in ʼn stuk papier toegedraai skool toe kan bring nie. Toe ek onlangs saam met ʼn span van Solidariteit Helpende Hand skooltassies by ʼn laerskool gaan uitdeel het, moes ek sluk aan die knop in my keel.  Soveel dankbaarheid en opgewondenheid – en dit oor ʼn “space-case” met inkleurpotlode!

In Rustenburg was ek by ʼn skool waar ek moes help worsrolletjies en koeldrank uitdeel.  Ek kon die swaarkry in sommige jong gesiggies sien, en dit het my ontstel.  Dis verkeerd!  Kinders moet eintlik net kinders wees.

In Pretoria was ons by ʼn skool waar “welaf” ouers self ingespring en ʼn sopkombuis begin het.  Ek loof hulle daarvoor.

Elke jaar in Kerstyd deel ek en my gesin  geskenkpakkies onder behoeftige kinders uit.  Die toedraai van die geskenkies en die afmeet van die lekkergoed is net soveel pret as die uitdeel.

ʼn Hoogtepunt was die pers komberse wat ek in die winter van 2005 moes uitdeel. Ek moes elke kombers met ʼn permanente merker teken en my hand was later lam. Of die handtekening ʼn verskil gemaak het, weet ek nie, maar eenduisend lyfies was daardie winter in my pers komberse toegewikkel.

Ek probeer nie Moeder Teresa se plek inneem nie, maar soos Pa het ek ontdek dat die beste geskenk wat jy kan ontvang, die gawe is om te kan gee.

Wat gaan van ons kinders word, wie gaan vir ons kinders sorg? klink die woorde van die liedjie.  Glo my, dis ons verantwoordelikheid.  Ons móét help, want om ons, oral waar ons gaan en net waar ons kyk, is daar behoefte … en kinders moet mos eintlik net kinders wees.