Skip to content

Nuusbrief: Ouma-en-oupa-projek begin!

Deur Michelle Burger

foto3Solidariteit Helpende Hand, in samewerking met Time Media Films(TMF), loods hierdie maand weer die “Neem-ʼn-ouma-fliek-toe”-inisiatief. Hierdie jaar gaan Helpende Hand se hoofkantoorspan, die streke en takke betrokke wees, maar enige lid van die publiek kan ook aan hierdie projek deelneem deur hul eie oumas fliek toe te neem. Jou deelname kan ook vir jou lekker pryse wen – ons daag jou uit!

Wat doen Helpende Hand?
Die nuwe Afrikaanse rolprent, Vrou soek ’n Boer, begin landswyd op 7 Maart 2014. Helpende Hand se hoofkantoor bied reeds op 6 Maart ʼn spesiale vertoning vir 100 oumas by Centurion Mall aan. Op dié dag gaan Helpende Hand die oumas bederf met ʼn glansoggend op die rooi tapyt asook ʼn geselligheid saam met die aktrises wat in die rolprent speel. Die Flooze, ambassadeur van Helpende Hand se Ouma-en-Oupa- projek gaan die dag ook saam met die oumas kuier.

Helpende Hand werk span verder ook saam met Ster-Kinekor sodat elke streek minstens 20 oumas kan neem om Vrou soek ’n Boer by ʼn Ster-Kinekor-teater in hul streek te gaan kyk. So wil ons graag ook die inisiatief op ʼn nasionale vlak aanbied.

Is daar ’n rol vir die publiek?
Helpende Hand loods ook ʼn opwindende kompetisie vir die publiek in samewerking met Ster-Kinekor en Vrou soek ’n Boer. Lede van die publiek word uitgedaag om hul eie oumas te neem, of om ʼn behoeftige ouma in hul gemeenskap te neem om dié rolprent by ʼn Ster-Kinekor-teater te gaan kyk. Stuur dan jul foto’s van die geleentheid en die storie daaragter na Helpende Hand. Die beste foto en storie staan ʼn kans om groot pryse te wen, soos ʼn uitnodiging na die volgende première van een van TMF se rolprente, asook ʼn geskenkpakkie met vergunning van Vrou soek ’n Boer en nog ander pryse. Hou ons Facebook-blad (www.facebook.com/helpendehand) dop vir meer inligting.

So neem ʼn ouma fliek toe … ons daag jou uit!

Vir enige navrae oor die projek, kontak gerus die projekorganiseerder by [email protected]