Skip to content

Nuusbrief: Projek Leerkrag gaan van krag tot krag

Deur Grietjie Prinsloo

Solidariteit Helpende Hand het in Februarie R17 500 aan Laerskool Oosterkruin in Germiston oorhandig vir hul volgehoue en suksesvolle deelname aan Projek Leerkrag.

Die skool is vanjaar weer een van die begunstigde skole van Projek Leerkrag. Deur hierdie projek word studente deur Helpende Hand gesubsidieer en as onderwysassistente ingespan om die druk op oorlaaide onderwysers te verlig en terselfdertyd waardevolle indiensopleiding te ontvang.

“Die belegging wat al in meer as 60 jong onderwysers se lewens gemaak is, is nou reeds meer as ‘n halfmiljoen rand werd. Dit sal gehalte Afrikaansonderwys in die toekoms verseker”, sê Riaan du Plooy, adjunk-uitvoerende hoof: onderwys en opleiding van Helpende Hand.

“Die onderwysers en ouers het die oorhandiging met geweldige toejuiging aanvaar”, sê hy. Volgens Du Plooy gaan die geld aangewend word om kinders met leerprobleme te help deur gebruik te maak van arbeidsterapeute, spraakterapeute en ander ondersteunende dienste. “Ouers wat nie die ondersteunende dienste kan bekostig nie, se kinders sal gehelp word.”

Volgens Du Plooy is dit  ʼn riem onder die hart dat agterstande so uitgewis kan word en leerders toegerus kan word om meer effektief in die klas te funksioneer.

Elk van die deelnemende skole ondersteun Helpende Hand met die werwing van ondersteuners vir die projek. Laerskool Oosterkruin het addisionele ondersteuners gewerf en het daarvoor die prysgeld ontvang.

Vir meer inligting oor Projek Leerkrag kan Riaan du Plooy by [email protected] gekontak word.