Skip to content

Nuusbrief: Registrasies stroom in vir Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie

Deur Grietjie Prinsloo

foto4Leerlinge van oor die land kan nou inskryf vir Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie. Die kompetisie is op 17 Februarie bekendgestel vir alle graad 6- tot 12-leerlinge en byna 50 registrasies is reeds ontvang. Deur hierdie kompetisie poog Helpende Hand om iets omtrent die probleem van werkloosheid onder die jeug te doen deur jongmense vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig.

Helpende Hand het teen die einde van Februarie verskeie Wes-Kaapse skole besoek om die organisasie se entrepreneurskompetisie bekend te stel. Karin Venter, ʼn Helpende Hand-projekorganiseerder, het skole regdeur die provinsie besoek om leerlinge meer omtrent die kompetisie te vertel en om hul kreatiewe besigheidsdenke aan te wakker.

Hierdie maand sal skole in Gauteng besoek word.

Die kompetisie word vanjaar vir ʼn tweede keer aangebied en die totale prysgeld beloop R60 000. “Verlede jaar was die kompetisie ʼn reusesukses en dit het ons aangespoor om dit vanjaar selfs op ’n groter skaal aan te pak,” sê Venter. “Die wenner sal wegstap met R15 000 om in sy of haar beplande besigheid te belê, asook R15 000 vir sy of haar skool wat vir entrepreneursontwikkeling by die skool aangewend kan word.”

Registrasie vir die kompetisie is gratis en die wenner sal ook op kykNET se Ontbytsake-program verskyn om met sy of haar eie besigheid te spog.

“Met die aanleer van entrepreneuriese vaardighede vanaf ʼn vroeë ouderdom sal jongmense beter toegerus wees om die toekoms aan te pak. Hierdie vaardighede sal ook verseker dat ʼn agterdeur – in die vorm van ʼn Plan B – oop is as dinge vir hulle in die werkplek skeefloop,” sê Venter.

Die kompetisie bestaan uit drie rondes en finaliste sal na afloop van elke ronde na ʼn volgende ronde van die kompetisie deurdring en sodoende toegang kry tot die materiaal vir die volgende ronde. Leerlinge kan registreer op www.loopbaan.co.za en die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei 2014. Die volledige prosedure vir inskrywings is ook op die webblad beskikbaar.

Vir enige navrae kan Karin Venter by [email protected] gekontak word.