Skip to content

Nuusbrief: Tassieprojek groter as ooit vantevore

Deur Mariné Jacobs

Chris_tassies_smallSo is al die skooltassies vir 2014 uitgedeel tydens Helpende Hand se grootste Skooltassieprojek ooit – 4 600 skooltassies by 208 skole regoor die land!

“Met die nasionale Skooltassieprojek dra Helpende Hand by om behoeftige Afrikaanssprekende graadeens te ondersteun om hul skoolloopbaan op ʼn gelyke vlak met klasmaats te begin,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons glo dat armoede uitgeroei kan word deur in opleiding te belê. Vir Helpende Hand begin dit reeds met die gevoel van hoop wat die nodige gereedskap vir hierdie kinders skep.”

Meer as 21 000 tassies is al aan behoeftige graadeens geskenk sedert die projek in 2007 geloods is.

“[Helpende Hand] het ons in staat gestel om ʼn verskil in kinders se lewens te maak,” sê George Parker, skoolhoof van Hoërskool Generaal Beyers in Pretoria. “Ek is ongelooflik dankbaar vir die bydrae wat [Helpende Hand] gemaak het. Ons het ’n dogter gehad, pragtig, met blonde hare, wat haar boeke in ’n plastieksak skool toe gebring het. Haar blydskap oor die tassie met al die goed binne-in het trane in onderwysers se oë gebring.”

Suzette van der Westhuizen, bemarkingskoördineerder van Laerskool Tuinrand, sê dat die kinders se blink ogies en groot glimlagte met die ontvang van die tassies iets was om te sien. “Die tassies word werklik waardeer.  Wees verseker dat dit ‘n groot verskil maak in die kinders se lewens,” sê sy.

Pieter van Coller, skoolhoof van Laerskool Skuilkrans in Pretoria, het ook sy dank teenoor Helpende Hand uitgespreek vir die “wonderlike gebaar” om skooltassies aan die skool se behoeftige graadeens te skenk.

Elke rugsakkie het vanjaar ʼn skêr, gom, liniaal, witbord, penneblikkie, inkleurpotlode, uitdraaikryte, waskryte, witbordpenne, uitveër, skerpmaker, inkleurboek, witbord-uitveër, klei, waterverf, legkaart, springtou en tennisbal bevat, asook die Bybelgenootskap se My eerste Bybel doen en leer boek wat deur die Bybelgenootskap geskenk is.

Anel du Preez, projekorganiseerder van die Skooltassieprojek, sê dat die projek vanjaar die grootste nog was. “Om elke kind se opgewonde gesiggie te sien wanneer hy of sy die nuwe skooltassie uitpak, maak al die harde werk die moeite werd,” sê sy. “Ons weet dat ons ʼn verskil in ʼn kind se lewe maak, wat op die langtermyn ʼn verskil in ʼn gesin en ʼn familie se lewens kan maak.”