Nuusbrief: Vrystaat Kerspartytjies vir oud en jonk

Deur Mariné Jacobs

Aliwal-Noord_kersfunksieHelpende Hand se Vrystaat-takke het verlede jaar verskeie Kersfunksies vir behoeftiges gehou om die jaar mee af te sluit.

Bloemfontein-gesinstak het koek en geskenkpakkies onder behoeftige leerders van Bloemfontein Laerskool uitgedeel, terwyl Aliwal-Noord-tak kleuters van Bollie Konyn Kleuterskool lekker bederf het met heerlike eetgoed en geskenke.

Vanessa Marais, Helpende Hand se streeksorganiseerder in die Vrystaat, sê dat daar heerlik saam met die kleuters gespeel is en dat elke kind ʼn foto van hom of haar saam met Kersvader ontvang het. Die vrouetak het ʼn heerlike Kersfunksie by Dr Visser Laerskool in Bloemfontein gehou, terwyl Reddersburg-tak die inwoners van die Reddersburg-aftreeoord met ʼn Kerspartytjie bederf het.

Takke in Helpende Hand se Vrystaat-streek het ook uitgereik na behoeftige graadeens as deel van die organisasie se nasionale Skooltassieprojek. Die Laerskool Aliwal-Noord en Sentraal Laerskool, Dr Visser Laerskool en Onze Rust Laerskool in Bloemfontein is onder meer besoek en tassies is uitgedeel.

In Januarie het die Bloemfonteinse Vroue-in-Aksie tak 80 senior burgers by die Siesta-aftreeoord met heerlike roomys bederf as deel van hul projekte vir senior burgers.