Nuwe jaar, nuwe werk?

Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit baie van ons se voorneme om ons droom werk dié betrokke jaar te kry. Die getal mense wat werk soek se syfers styg elke jaar skerp in Januarie. Sommige van ons soek ʼn nuwe werk waar ons ons loopbaan-drome kan verwesenlik, ander hoop vir  ʼn groter salaris en ánder wil weer ʼn beter balans tussen werk en familie handhaaf.

Jou CV kan jou maak of breek

Tradisioneel bevat mens se CV inligting oor jou persoonlike besonderhede, jou professionele ondervinding en jou opleiding. Terwyl dit steeds so is, het die manier waarop jou CV jou verteenwoordig wel verander. Dit is ook belangrik om die tale wat jy magtig is en die rekenaarvaardighede waaroor jy beskik op jou CV duidelik te maak. Onthou dat jou CV ʼn wáre refleksie van jou werksondervinding moet wees – indien dit nie is nie, sal die waarheid wel vinnig aan die lig kom en dit kan jou ʼn werk kos.

CV’s is vir ʼn gemiddeld van 7 sekondes in ʼn werwer se hande. Daarom is die eerste indruk wat jy met jou CV wil maak van kardinale belang. Twee A4 bladsye is genoeg om al die onderstaande informasie te vervat. Goeie spelling, taalgebruik en sinskonstruksie is belangrik (kry professionele hulp indien jy hiermee sukkel). Bly weg van agtergronde, gekleurde papier, raampies en verskillende lettertipes. Druk jou CV uit om te sien hoe dit gaan lyk op papier en voorsien dit in MS Word formaat aan werwingsmaatskappye. Jy kan afskop met die naam van die pos waarvoor jy aansoek doen en dan volg met die volgende, in volgorde:

  1. Professionele ondervinding

Begin by jou mees onlangse pos en werk terug. Poste wat jy langer as 10 jaar gelede beklee het kan minder fokus dra, of selfs van jou CV afgehaal word indien dit nie meer relevant is nie. Gee vir elke pos die top drie verantwoordelikhede deur, plus jou grootste prestasie in daardie pos. Jy kan ook jou rede dat jy elke pos verlaat het kortliks weergee. Beklemtoon enige iets wat jy belangrik en relevant ag.

  1. Opleiding

Die instansie, kwalifikasie en die jaar waarin die kwalifikasie bereik is, is al wat nodig is. Die hoofvakke of fokus van studies kan genoem word, maar moet nie ʼn volledige lys vakke en punte verskaf nie. Dit kan beskikbaar gestel word, tesame met sertifikate, op aanvraag.

  1. Profiel

Dit maak sin om jou CV met jou naam en ʼn goeie, onlangse foto te begin. Op jou tweede bladsy kan jy dan jou persoonlike besonderhede verskaf. Onthou dat jou persoonlike profiel nie jou identiteitsnommer en adres moet insluit nie vir sekuriteitsredes. Dit moet wel baie duidelik jou telefoonnommer, alternatiewe nommer en e-pos adres insluit. Jou nasionaliteit, etnisiteit, geboortedatum en huwelikstatus is nie nodig vir jou CV nie. Jy kan ook jou belangstellings en stokperdjies uitlos, omdat dit min waarde toevoeg vir werkgewers.

  1. Verwysings

Verwysings kan op aanvraag gegee word. Jy wil nie in ʼn situasie beland waar jy aansoek doen vir poste en die werkgewer jou huidige werkgewer kontak voordat hulle nog met jou gepraat het en voordat jy jou werkgewer in kennis gestel het van jou bedanking nie. Jy kan aandui dat verwysings op aanvraag beskikbaar is. In daardie geval, hou die name en kontakbesonderhede gereed. Wees ook voorbereid dat goeie werwers en personeelagentskappe soms nie jou verwysings skakel nie, maar self die maatskappy kontak en met hul menslike hulpbronne of jou direkte lynhoof gesels.

Indien daar gate in jou CV is, waar jy werkloos was vir enige rede, moet dit nie ignoreer nie. Maak seker dat jy dit uitwys en duidelik die redes verskaf wat die situasie verduidelik. Dit kan so eenvoudig wees soos ʼn begin en einddatum gevolg met “werkloos as gevolg van aflegging”.

  1. Jou dekbrief – die begin van die begin

Maak seker jou dekbrief is gerig aan die korrekte persoon. Doen deeglike navorsing oor die pos en die maatskappy waar jy aansoek doen. Skryf ʼn dekbrief met hierdie pos in gedagte en verduidelik waarom jy voel dat jy die beste persoon vir die pos is. Indien jy tans ʼn pos beklee wat nie direk verband hou met die pos waarvoor jy aansoek doen nie, verduidelik jou redes vir aansoek en hoekom jy dink dat jy waarde kan toevoeg gebaseer op die posbeskrywing in die advertensie waarop jy antwoord.

Ek het ʼn CV – wat nou?

Noudat jy jou CV opgestel het, kan jy aansoek doen vir poste. Jy kan uitgedrukte afskrifte neem na werwingsagente, maatskappye en jou eie netwerk van vriende en familie. Jy kan jou CV laai op webblaaie waar werkgewers gaan soek vir gepaste kandidate en jy kan werk aanlyn soek. Moenie vergeet om hulp te vra van almal wat jy ken nie en selfs te gaan kyk na groepe op Facebook waar mense poste plaas.

www.werknet.co.za is een van die plekke waar jy jou CV kan oplaai. Hierdie is ʼn gratis platform vir werkgewers om kandidate te soek, en vir werknemers om CV’s op te laai en poste te soek. Volg ons ook op Facebook vir daaglikse informasie en nuwe poste wat gedeel word.