Skip to content

Ondersteun behoeftige meisies dié Vrouemaand

Demi Lee Moore help behoeftige meisies

Demi Lee Moore help behoeftige meisies

Helpende Hand, Demi Lee Moore en vooraanstaande maatskappye in die skoonheidsbedryf het hande gevat om in Vrouemaand ’n beduidende verskil in behoeftige meisies se lewens te maak.

Benette Rautenbach, Solidariteit Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpHetta, sê Vrouemaand is die ideale maand om nie net vrouwees te vier nie, maar ook om te sorg dat meisiewees vir behoeftiges makliker gemaak word.

“Die #HelpHetta-projek verskaf tans sanitêre produkte aan 3 000 Afrikaanse laer- en hoërskoolmeisies landwyd. Hulle kan dit bloot eenvoudig nie bekostig om hul eie basiese produkte vir persoonlike versorging aan te koop nie. ’n Gebrek aan sanitêre doekies veroorsaak onder meer dat talle van dié meisies tot 52 skooldae ’n jaar asook sport- en sosiale geleenthede misloop,” sê Rautenbach.

Demi Lee Moore

Demi Lee Moore is in Julie as #HelpHetta se ambassadeur aangewys en het reeds twee van haar droomrokke, wat sy onderskeidelik by die Afrikaans is Groot-konserte en Ghoema-toekennings gedra het, aan #HelpHetta geskenk.

“Ek was op hoërskool toe ek besef wat sanitêre produkte kos. Ek het in die winkel gestaan en dink, hoe bekostig ’n mens dit as jy skaars ’n brood kan bekostig? As jy ’n keuse moet maak tussen kos en sanitêre produkte, watter een gaan jy dan kies? Dit is vir my dus belangrik om deel te wees van dié projek want ek wil graag help om behoeftige meisies se lewensgehalte verbeter. Tienermeisies het genoeg om hulself oor te bekommer, ʼn tekort aan sanitêre produkte moet beslis nie een van daardie goed wees nie,” sê Moore.

Helpende Hand het ook ten bate van #HelpHetta hande gevat met Placècol en MUD Make-Up Designory.

Placècol en MUD

“Toe Helpende Hand die stigter van Placècol, Elma McKenzie, genader het om dié behoefte aan te spreek, het sy die geleentheid dadelik aangegryp,” sê Esna Colyn, uitvoerende hoof van Placècol.

“Met die hulp van Alpha Pharm kan mense by ons salonne ’n produkpak, wat gewoonlik R170 sal kos, teen R80 borg om behoeftige meisies te ondersteun. Dié pakkies bevat sanitêre doekies, ’n reukweerder, seep, tandepaste, ’n tandeborsel, vaseline en lip-ice. Dit is ons missie om ’n positiewe verandering in die wêreld te maak en lewens te verbeter,” voeg Colyn by.

MUD het onderneem om van die wins wat met sy MUD Cares-oogskadupalette gemaak word, aan #HelpHetta te skenk. Die palette kan aanlyn gekoop word by www.mudsa.co.za/mud-cares.

Rautenbach sê die publiek kan ook op www.helphetta.co.za geld skenk waarmee sanitêre produkte aangekoop sal word. “#HelpHetta is reeds in 2015 van stapel gestuur en het tot dusver meer as R800 000 aan die projek bestee. Teen 2021 wil ons graag 4 000 jong meisies help en verseker dat hulle nie onnodig skooldae mis nie,” sê sy.