ONS EIE DING of ʼn GEMEENSKAP-DING?

Tanya Rossouw – Maatskaplike werker, Bloemfontein

 

Ons kan so maklik voel ons staan alleen. Miskien is dit omdat baie van ons wel alleen staan. Ons het oor die jare ONS EIE DING begin doen, in ʼn tyd toe dit makliker was om ONS EIE DING te doen. Daarmee saam het ons dít waarvoor ons baie hard gewerk het met ons lewe opgepas – veral toe dit ook duidelik word dat dit baie nodig is om alles mooi op te pas – anders is dit nie meer joune nie.

In hierdie wedloop van die lewe waaraan ons almal deelneem, word sommige van ons gedra totdat ons groot en sterk genoeg is om self te hardloop. Eers kruip jy en dan waggel-waggel jy! Maar jy beweeg. Dan skielik voel die litte behoorlik los en jou balans is fantasties en boeta, jy hardloop al te lekker!

 

Dan is jy gereed vir die grootmenswêreld met al sy uitdagings.

 

Sommige word gepootjie – want daar is nare karakters wat ook saam hardloop en sommige val oor hul eie voete as hulle vir ʼn oomblik hul fokus verloor.  Party sukkel behoorlik om oor die hekkies te kom en ander seil sommer onder deur. As jy uitgevang word, kan daar ʼn fluitjie vir jou blaas en jy kan dalk ʼn meter of wat teruggesit word – omdat jy ʼn kansvatter is!

 

Jy hardloop nog so dan kom jy mense teë wat met ʼn kierie hinkepink – hulle is al jare lank in die wedloop van die lewe.  En wag, daar haal jy iemand in wat iemand anders in ʼn rolstoel stoot.  Maar beweeg die beweeg ons almal.  Te veel keer sal jy by mense verby wil gaan wie se knieë behoorlik nerfaf geval is.  Hulle huil dat die trane loop want hulle het seergekry.  Soms is ligamente geskeur en soms is daar ʼn paar skrape.  Daar’s bloed en dit brand. Ai, en jy loer na jou horlosie en jy sê vir jouself EINTLIK het ek nie nou tyd om hierdie outjie te help nie.  Jy het IN ELK GEVAL nie pleisters, ontsmetmiddel en salf by jou nie. Die noodhulpmense is aan die oorkant van die baan.  Jy oorweeg die opsies – sal jy die persoon ophelp en by hulp uitkry, of sal jy ten minste iemand gaan roep wat kan help?  Maar nee, jy hardloop verder want jy het oorwinnings om te behaal en jy hoop iemand sal maar daar stop.  Soms bid jy selfs dat iemand ASSEBLIEF daar sal stop en help – want jy het darem ook ʼn hart … En mense moet net verstaan jy is nou besig met JOU EIE DING.

 

Die landskap van ons wedloop het oor die jare baie verander.  Die wedloop is beslis nie meer ʼn maklike een op ʼn terrein wat gelyk is nie.  Nee, die terrein is ru en daar is oral verskeie gevare wat jou lewe so bedreig dat elke dag van die wedloop meer uitdagings as plesier inhou.  Hoe gemakliker jou hardloopskoene is, hoe beter is dit vir jou.  Maar sommige mense hardloop kaalvoet en laat ʼn bloedspoor daar waar hulle trap … hulle word gelos om HUL EIE DING te doen.

 

Wanneer gaan ons besef ons kan nie meer heeldag en aldag ONS EIE DING doen nie?  Wanneer staan ons op en sê LUISTER, ons kort rusplek waar almal hul kragte kan hernu?  Daardie plek waar jy weet jy word INGESLUIT en nie uitgesluit – net omdat jy is wie jy is.  En wanneer besef JY dat jy iets het om te bied in plaas van om altyd bakhand te staan, al het jy nie regtig so seer geval as wat jy vir almal vertel nie.  Krag lê in saamstaan.  Krag lê in “minder ek en meer JY.”  Ongelukkig is daar so baie “nuwe” voorskrifte oor hoe die wedloop van die lewe aangepak moet word. Daar is duisende stemme wat in jou oor fluister en dit bring groot verwarring mee wat veroorsaak dat elkeen net SY OF HAAR EIE DING doen.

 

Op ʼn dag kan JY jouself nerfaf val.  Op ʼn dag mag dit jou hardloopskoene wees wat óf te klein óf voos is. Jy mag dan selfs ʼn bloedspoor agterlaat. Sal jy dan nie ook bid dat daar tog net IEMAND verbykom wat nie net op SY EIE DING gefokus is nie?