ONS PLEK / ONS RUIMTE

Tanya Rossouw en Marlene Malan

(Maatskaplike werkers: Solidariteit Helpende Hand)

As iemand nou vir jou vra: “Behoort jy?” sal jou antwoord heel moontlik wees: “Ja, ek behoort aan my pa en ma en my man/vrou, en my kinders behoort aan my.” Op ‘n spirituele vlak kan jy dalk antwoord: “Ek behoort aan God.” Is dit werklik al waar of aan wie ons behoort? Dan is dit dalk belangrik om wyer na die begrip behoort te kyk.

Op ‘n wyer vlak beteken behoort ook om deel te wees van en ingesluit te wees in die breër samelewing. Om iewers in te pas, om te behoort tot ‘n familie, aan ‘n vriendekring, in ‘n gemeenskap, tot ‘n kultuur- of godsdiensgroep wat glo soos jy glo, is ‘n ingebore behoefte by die mens. Dis die teenoorgestelde van alleenwees. Baie mense dink hulle kan sonder “behoort” klaarkom en het niemand in hul lewens nodig nie, maar om te behoort is ‘n primêre behoefte in elke mens. Dit bestaan reeds by geboorte. Indien ‘n kind nie van geboorte af ‘n gevoel van behoort ervaar nie moet daar dikwels later bindingsterapie tussen die kind en ‘n betekenisvolle persoon gedoen word om die kind te “anker”. Daardie gevoel om deel te wees van iets groter as jyself gee in die eerste plek betekenis aan ‘n mens se lewe. Sonder betekenis voel jy soos ‘n niks en sukkel jy om behoorlik te funksioneer.

Om te behoort, is van kardinale belang vir ons geluk en welstand. Daar is bevind om te behoort het ‘n wesenlike impak op wat vir die mens belangrik is, sy motivering, fisiese en emosionele gesondheid en geluk. Dis belangrik om te voel jy is deel van die breër gemeenskap of selfs net ‘n groep mense in jou lewe en dat hulle omgee vir en omsien na jou belange. Om geïsoleerd en eensaam te leef, is nie gesond vir die mens se algemene welstand nie. Dit het ‘n negatiewe impak op jou intellektuele prestasies, immuniteit en fisiese gesondheid. Die mense by wie jy tuishoort, is ook ‘n dryfveer om take aan te pak. Selfs al sou ‘n spesifieke taak moeilik wees om uit te voer of vol te hou, dien jou mense as dryfveer en motivering. As ‘n mens daarenteen voel jy hoort nêrens en het geen ondersteuning nie, is jy geneig om maklik moed op te gee. Jy bevraagteken jou eie vermoëns en vaardighede en gaan kruip weg omdat jy geen selfvertroue het nie. Sulke gedrag is nie aanvaarbaar in die samelewing of vir die mense om jou nie.

Redes waarom jy voel jy behoort nie

  • Jou uitkyk op die lewe verskil te drasties van die mense om jou s’n.
  • Jy sukkel om uitdrukking te gee aan jou voorkeure, waarin jy glo en waarvoor jy staan.
  • Jy luister nie altyd wat ander mense se menings en sienings is nie en dit lei tot misverstande.
  • Omstandighede verander te drasties en mense groei weg van mekaar.
  • Mense stagneer en stel hulself nie oop om aan te pas by verandering nie; dit kan lei tot ‘n gevoel van isolasie en eensaamheid.
  • Uitdagings rakende jou gesondheid kan jou geïsoleerd of eensaam laat voel. Een uit elke vier volwassenes ly aan ‘n diagnoseerbare psigiese gesondheidsuitdaging.
  • Jy vind nie aanklank by die kultuur van die mense om jou nie.
  • Jy is nie oop en ontvanklik vir geleenthede om jou nie en sal ‘n groter poging moet aanwend om deel te word van die groep en dit waarby hulle betrokke is.

Wenke om te voel jy behoort

  • Die beste manier om te voel jy behoort, is om so gereeld as moontlik met mense om jou te kommunikeer en betrokke te raak by hulle bedrywighede.
  • Wend ‘n poging aan om die mense in jou lewe beter te leer ken.
  • Moenie aanvaar omdat julle van mekaar verskil, sal julle hoegenaamd niks in gemeen hê nie; dit sal net verdere verwydering bring. Konsentreer liewer doelbewus op die ooreenkomste tussen julle. Onthou, julle hoef nie altyd oor alles saam te stem nie, maar jy hoef ook nie mense uit jou lewe te skuif net omdat julle hier en daar verskil nie.
  • Onthou, die meeste mense het goeie harte en hulle verdien ‘n kans om geleer ken te word en om met jou vriende te maak.
  • Wees eerlik oor wie jy is. Moenie ‘n vals beeld voorhou nie; mense sal wel later uitvind jy is nie regtig wie jy voorgegee het om te wees nie en hulle respek vir jou verloor. Respek en agting vir mekaar word dikwels uit eerlikheid gebore en dit is ‘n waardevolle waarde in die samelewing.
  • Benader ander vriendelik en aanvaar hulle met hul foute, dan sal hulle ook meer geneë wees om jou met jou foute te aanvaar.
  • As jy almal wat jy ontmoet ‘n armlengte van jou af hou, sal jy nooit met enigiemand ‘n band vorm wat jou laat voel jy behoort nie.

Ten slotte

Daag jouself uit: Wend ‘n eerlike poging aan om mense naby jou toe te laat en gun hulle ‘n regverdige kans om deel van jou lewe te word. Dalk verras jy nie net vir hulle nie maar ook jouself as julle wedersyds voel julle behoort.

Soek jou ruimte. Daar is plek vir ons almal onder hierdie son.