Die impak van Covid-19 op die mens se gemoedere

ONSEKERHEID EN GEPAARDGAANDE SPANNING

  • Marlene Malan, maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand

Die Covid-19-pandemie word deur navorsers as die grootste maatskaplike en ekonomiese skok in ons leeftyd bestempel. Ons kan dus nie die ernstige negatiewe gevolge van spanning, vrees, groot verliese en hartseer ignoreer nie, dit sluit die impak op kinders in. Dit is van uiterste belang dat mense bewus gemaak word van die impak wat die pandemie op hul geestesgesondheid en algehele funksionering het, sodat hulle weer ʼn gevoel van beheer kan kry. Dit kan gedoen word deur middel van die gebruik van selfhelpvaardighede en ondersteuning deur professionele, eksterne hulp.

Ons is reeds deur die derde golf, en daar word voorspel dat ʼn vierde golf van besmettings die land later vanjaar sal tref. 30 maande ná die SARS-uitbreek in 2003 het ʼn derde van die oorlewendes aan die kriteria vir ʼn psigiatriese versteuring voldoen, en ongeveer 16% het aan depressiewe siektes gely. Die gevolge van die Koronavirus is egter legio, en die einde is nog lank nie in sig nie. Vele mense wat die siekte opgedoen het, kla reeds oor die fisiese nagevolge en die impak op hul emosionele welstand en funksionering. Ander het geliefdes, vriende of persone naby aan hulle aan die dood afgestaan en sukkel om die verlies te werk. Mense is afgesny van normale, sosiale aktiwiteite en ervaar intense eensaamheid. Volgens Statistiek Suid-Afrika het drie miljoen mense skielik tydens April 2020 hul werk verloor, en 47% van die land se mense het honger gaan slaap. Die hoeveelheid mense wat voor die landwye inperking nie genoeg geld gehad het om kos mee te koop nie, was ongeveer 21% van die landsbevolking. Die Statistiek Suid-Afrika-verslag het aan die lig gebring dat vroue wat hoofbroodwinners is die meeste onder die inperking gely het. Gebaseer op die bewyse uit ander lande sal arm Suid-Afrikaners – waarvan meer as 50% onder die broodlyn leef – die ergste op fisieke, maatskaplike, geestes- en ekonomiese vlakke geraak word. Die werkloosheidsyfer het tot ongeveer 34% gestyg, en die vooruitsigte vir werkskepping blyk baie skraal te wees.

Die negatiewe impak van Covid-19 van nader beskou

Die mens is geskape as fisiese, emosionele en geestelike wesens wat in verhouding met homself, andere, sy omgewing en God staan. Onsekerheid lei eerstens tot die gevoel van beheer verloor, wat spanningsvlakke kan laat toeneem, en selfs aanleiding tot siektes, soos depressie, gee.Mense beskryf die virus as ʼn onsigbare monster wat hul lewe oorgeneem het. Die voortdurende herinnering aan maskers en ontsmetting, asook die hoogs aansteeklike aard van die virus veroorsaak geweldige spanning. Die beperking wat op mense se vryheid van beweging en aanraking geplaas is, het nie alleen ʼn fisiese uitwerking op die mens nie, maar ook ʼn kragtige emosionele impak op hul gemoedere. Die ekonomiese onsekerheid – as gevolg van werksverliese, verminderde salarisse en ʼn tekort aan geld vir basiese noodsaaklikhede –  veroorsaak ook spanning en angs.Die onsekerheid oor geliefdes se veiligheid ten opsigte van die virus skep onnodige spanning by mense.Ouers se bekommernisse oor hul skoolgaande kinders se akademiese vordering as gevolg van die nasionale inperkings en skoolsluitings, asook die spanning wat sporadiese skoolbywoning op die emosionele welstand van die kind het, word dikwels onderskat. Onduidelikheid by studente rakende hul naskoolse opleiding skep spanning en angs. Ons geloofslewe word negatief beïnvloed omdat mense nie kerk kan bywoon en deur samesyn versterk kan word nie. Die onduidelikhede rondom die potensiële gevolge van die inenting is ʼn verdere spanningspunt. Dit voel soms asof mens in ʼn groot dam vasgevang is en besig is om te verdrink onder al die spanning, onsekerheid en pademieverwante onkunde. Jy weet nie watter kant jy moet uitklim nie. Die Covid-19-pandemie het ons almal net weer laat besef hoe weerloos en nietig ons is, maar het ons ook opnuut laat besef dat die Here in beheer is. Mattheus 28:18-20: “Aan My is al die mag gegee in die hemel en op die aarde […] Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”.  

Hoe hanteer ons onsekerheid en die spanning wat dit teweegbring?

1. Geestesgesondheidwerkers – soos sielkundiges, professionele beraders, maatskaplike werkers en predikante – stel voor dat die persoon eerstens bewus moet raak van die emosies en gevoelens.

2.Dis belangrik om te besef dat die huidige emosies wat ons deur die Covid-19-uitbreek ervaar, normaal is. Dit sou abnormaal gewees het as ons nie sekere emosies ervaar het nie, want die Here het ons as emosionele wesens geskape. (Vir diegene wat reeds voor die Covid-19-tydperk met hoë onsekerheids- en spanningsvlakke geworstel het, kan dié emosies tydens die pandemie verdiep.)

3.Vra jouself af of hierdie spanning, angstigheid en onsekerheid wat ervaar word oorgedra word aan ander gesinslede, familie of vriende. Woorde en nieverbale kommunikasie ontlok gevoelens. Soms kleur ons die situasie met swaar woorde en emosionele, irrasionele gevoelens in. Dit intensiveer en vererger soms die bedoelde boodskap.

4.Wees bewus daarvan dat die uitbreek van die virus ons veiligheid op alle terreine bedreig, naamlik: fisies, ekonomies, sosiaal en op die geestelike vlak. Deur die veiligheidsmaatreëls ernstig op te neem om jouself en andere om jou te beskerm, plaas jou in beheer en anker jou weer om bewustelik en doelbewus te funksioneer.

Praktiese maniere om onsekerheid en spanning aan te spreek en te verlig.

2. Humor

Deur humor probeer ons sin maak van wat in die wêreld gebeur en ons spanning te verlig. Grappies het ʼn plek, maar moet met sensitiwiteit versprei word en moet opbouend en nie afbrekend wees nie. Ons moet ook in gedagte hou dat die realiteit soms verdraai word omdat ons nie weet wat om met die inligting te maak nie.

2. Tegnologie en kommunikasie

Onduidelike boodskappe en vals- of fopnuus kan angs- en spanningsvlakke verhoog. Dit is goed om ingelig te bly ten opsigte van wat in die wêreld aangaan rondom die Covid-19-pandemie, maar ʼn persoon moet homself nie 24 uur per dag blootstel daaraan nie, aangesien dit ʼn potensieel negatiewe impak op die geestestoestand van die persoon kan hê. Beheer wat jy wil kyk, luister of vermy. Besluit hoeveel en vir hoe lank jy daarna wil kyk en/of luister ter wille van jou eie angs- en onsekerheidsvlakke. Ons het ʼn verantwoordelikheid teenoor onsself en ander rondom ons.

  • Fokus op take of aktiwiteite wat jy nog altyd wou doen, of volg ʼn aanlyn kursus.
  • Kyk na goeie flieks wat jou vermaak of laat ontspan en opbouende boodskappe bevat.
  • Pak jou huis reg of gun jouself ook tyd om te rus en te ontspan.
  • Probeer nuwe resepte, en betrek die kinders en kleinkinders by aktiwiteite. Dié saamdoeningesteldheid sal die verhouding versterk en spanning en onsekerheid laat afneem.
  • Haal die bordspeletjie en ander speletjies uit en speel weer saam. Die saamspeel en gesonde kompeterende gedrag verlig die spanning, en jy ontdek opnuut eienskappe van mekaar wat jy nooit raakgesien het nie.
  • Lees die boeke wat jy nog nooit gelees het nie. Dit fokus jou gedagtes op die storie en daardeur ontvlug jy van die swaarmoedige impak van die pandemie.
  • Stig WhatsApp-groepies met ʼn spesifieke doel, soos gebed. Deur vir ander te bid, vergeet jy van jou eie probleme. Die Woord sê laat ons mekaar se laste dra as gelowiges en laat ons vir mekaar bid.
  • Deel ook inspirerende of nuwe uitvindsels met vriende – dit sal die intellek stimuleer.
  • Skakel vriende, gebruik Skype of Zoom om met oorsese vriende in kontak te bly, of maak gebruik van video-oproepe om met jou bejaarde ouers te gesels en om eensaamheid te verbreek en te verlig. Hierdeur ervaar jy ook weer betekenis deur uit te reik, al is dit deur middel van tegnologie.
  • Bestee kwaliteittyd saam met jou gesin, mediteer en doen weer selfondersoek, en ontdek jou sterkpunte, gawes en talente, tot voordeel van jouself en ander.
  • Woon aanlyn dienste by, lees die Bybel en geestelike boeke of leesstof op die internet.
  • Leer om stil te word en die waarde daarvan te ontdek.
  • Leer asemhalingstegnieke aan. Die ritmiese asemhaling kalmeer die gemoed, en dit bied suurstof na die brein om weldeurdagte besluite te kan neem wat ten gunste van jou en jou gesin is.
  • Hou ʼn dagboek of joernaal by. Ouers en tieners kan dagboek hou van gebeure in die Covid-19-tydperk waarna later teruggekyk kan word en om te sien hoe hul die pad gereis het en hoe hul daaruit kan leer, hetsy positief of negatief.
  • Aflaai van sekere slimfoontoepassings soos Kaleidoskoop kan ʼn persoon help om gegrond te bly en die brein te ontspan (selfs tieners sal hierby baat vind).
  • Tienerafwikkelingsgesprekke tussen ouers en tieners – byvoorbeeld by ʼn kerkbyeenkoms – waar bepaalde vrae gestel word, asook waar ouers en tieners stories, belewenisse en emosies met mekaar deel. So bly generasies verenig en bewus van mekaar se leefwêreld en leer so bymekaar.