5 Maart 2025
SOLIDARITEIT HELPENDE HAND MEDIAVERKLARING
Die onthulling dat die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling glo miljarde laat lê en stof opgaar, is kommerwekkend en ‘n onaanvaarbare onreg teenoor kwesbare inwoners.
Dit is die reaksie van Solidariteit Helpende Hand nadat die DA in Gauteng Woensdag bekend gemaak het dat die aantal befondste organisasies sonder winsbejag (OSW’s) van 2 061 in 2014 verminder het tot slegs 1 328 in 2025 – terwyl R1,7 miljard wat vir maatskaplike ontwikkelingsdoeleindes geoormerk is, onbestee gebly het.
“Die afname in befondste OSW’s en die onderbesteding van beskikbare fondse is ‘n harde klap in die gesig van organisasies wat reeds sukkel om noodsaaklike dienste aan kwesbare gemeenskappe te lewer,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
“Hierdie organisasies oorbrug kritieke gapings waar die regering dikwels nie kan of wil optree nie – van armoedeverligting tot opvoeding, gesondheidsorg en maatskaplike ondersteuning. Om hulle van befondsing te ontneem terwyl miljarde onbestee bly, is roekeloos en onverskillig.”
Noëth sê die drastiese afname in befondsing het verreikende gevolge. Dit beteken minder gemeenskapsentrums, minder hulp vir kinders en bejaardes en minder ondersteuning vir diegene wat met afhanklikheid en trauma worstel. Terwyl die behoefte aan hierdie dienste groei, krimp die hulpbronne wat beskikbaar is om dit te lewer.
“Solidariteit Helpende Hand ontvang geen staatshulp nie, maar danksy ons ondersteuners slaag ons onder meer daarin om daagliks 8 000 kinders van ‘n bord kos te voorsien en hulpbehoewende graad 1’s by 130 skole met skooltassies en skryfbehoeftes toe te rus. Ons het verskeie projekte om gemeenskappe se welstand te verseker en bejaardes, kleuters, persone met gestremdhede en gesinne by te staan. Danksy die Helpende Hand Studietrust wat vanjaar R61 miljoen se studiehulp toegeken het, word 1 170 studente tans gehelp. Dink net wat ons alles sal kan vermag met net ‘n fraksie van die onbestede staatsbefondsing – met die volle bedrag kon Helpende Hand 32 607 studente ondersteun, of 85 miljoen kleuters voed, of 3,77 miljoen skooltassies verskaf ,” sê Noëth.
Solidariteit Helpende Hand doen ‘n dringende beroep op die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om hierdie situasie reg te stel. Helpende Hand versoek dat die onbestede fondse dringend herontplooi word na OSW’s wat die impak van hul werk in gemeenskappe bewys het. Verder moet die departement ‘n deursigtige strategie implementeer om seker te maak dat befondsing regverdig, tydig en doeltreffend versprei word.
“OSW’s speel ‘n onmisbare rol in die bou van ‘n regverdige en voorspoedige samelewing,” voeg Noëth by. “Die regering behoort vennootskappe met hierdie organisasies te versterk eerder as om hul werk te ondermyn met ontoereikende befondsing en swak bestuur. As ons wil hê ons gemeenskappe moet floreer, moet ons belê in die mense en instellings wat hierdie verandering dryf.”
Solidariteit Helpende Hand moedig die publiek aan om hul stemme te laat hoor en druk op die regering te plaas om sy pligte na te kom. “Deur saam te staan, kan ons seker maak dat hulp en hoop steeds diegene bereik wat dit die nodigste het,” sê Noëth
//Einde


Fotobyskrifte:
1. Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
2. Die drastiese afname in befondsing het verreikende gevolge. Dit beteken onder meer minder hulp vir kinders en bejaardes.
Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand
Phillip Bruwer
Mediaskakelbeampte
Tel.: 012 111 8360
Sel: 081 374 5043 E-pos: phillip@helpendehand.co.za