Oom kry nuwe bromponie na Knysna-tragedie

Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub het ’n mede-motorfietsryer se lewe dramaties verbeter deur vir hom ʼn bromponie te skenk. Oom Kobus en tannie Jenny Mostert se kothuis en al hulle besittings het met die Knysna-brande afgebrand.

Oom Kobus werk by ʼn sekuriteitsfirma in Knysna, maar tydens die onlangse brande in dié area het hy ʼn tragiese verlies gely. Die Mostert-huis het in die Knysna-brande afgebrand en die egpaar het net met die klere aan hulle lyf ontsnap. Tannie Jenny het hulle baba katjie uit die huis gedra toe dit begin brand het. Mostert se bromponie, sy enigste vorm van vervoer, het ook in die vlamme opgegaan.

Oom Kobus, ʼn 60-jarige inwoner van Knysna, weet baie van swaarkry. Hy is tans in remissie met maagkanker en sukkel om te eet. Die verlies van die bromponie het beteken dat hy elke dag kilometers ver moes stap om by die werk te kom.

Helpende Hand se motorfietsklub het besluit om oom Kobus te help. Hulle het ʼn bromponie in Gauteng opgespoor en dit vir hom gevat. Oom Kobus was stomgeslaan toe die bromponie by sy voordeur opdaag.

“Ons is baie bly dat ons vir oom Kobus kon help,” sê Adele Wright, Suid-Kaap se streeksorganiseerder. “Hy en sy vrou kry baie swaar en sukkel albei met hulle gesondheid.”

Hy en sy vrou woon tans in tydelike behuising in Knysna.

Vir meer inligting oor wat Helpende Hand doen om slagoffers van die Knysna-brande te ondersteun, kontak vir Adele Wright op 072 970 1112.