Oud-rugbyspeler pak lang pad vir beste vriend, kinderhuise en hoop

Vir byna ses weke gaan Janco Lehmann (25) stoksielalleen ’n allamintige 1 793 km op sy fiets aandurf om ’n boodskap van hoop te bring vir kinders in kinderhuise. Hy voel so passievol oor dié lang beplande hartstog dat hy uit sy werk bedank het om dit aan te durf – ter herdenking van sy beste vriend wat drie jaar terug uit sy lewe geruk is.

Janco, ’n oud-rugbyster wat tans die gimnasiumbestuurder aan Hoërskool Paarl Gim en ’n spinning-instrukteur is, het in Lambertsbaai in die Wes-Kaap groot geword.

Hy droom al die afgelope vier jaar om vanaf Alexanderbaai na Durban met ’n fiets te ry om geld vir kinderhuise in te samel. Op 3 Oktober word dié droom van hom waar en pak hy die lang pad van die Wes-Kaap tot KwaZulu-Natal op sy fiets aan.

Hy gaan sy hartstog in Alexanderbaai begin en as alles volgens plan verloop, behoort hy op 20 Desember sy eindbestemming in Durban te bereik.

Op hierdie roete gaan hy by verskeie kinderhuise op sy pad stop en die kinders bemoedig met die boodskap: “Die omstandighede waarin jy nou is bepaal nie jou toekoms nie.”

Janco is dankbaar omdat hy wonderlike kinderjare gehad het en sy ouers kon aan sy behoeftes voldoen. Sy beste vriend, Armand, het in sy lewe gekom toe Janco vyf jaar oud was. Armand was toe ses.

“Hy het ’n swaar opbrengs gehad. Hys was ’n laatlammetjie gewees en dit was net hy en sy ma. Hy het sy pa eers later in sy lewe ontmoet. Hy het altyd by ons gebly omdat sy ma nie altyd vir hom kon sorg nie. Maar let wel sy was ’n fantastiese ma en sy het alles gedoen wat sy kon,” vertel Janco.

“Hulle het net nie baie gehad nie. Hy was altyd iemand wat bo sy omstandighede uitgestyg het en ’n sukses sou maak met alles wat hy aandurf. Hy was ’n goeie rugbyspeler gewees, hy was goeie mens en ’n groot kind van die Here. Hy het altyd geglimlag, hetsy sy omstandighede. Ek het altyd op gekyk na hom en doen nog steeds vandag. Hy is een van my grootste inspirasies.”

Op 20 Augustus 2015 is Armand in die ouderdom van 23 in ’n motorfietsongeluk uit sy geliefdes se lewe weggeruk. Sedertdien het sy beste vriend begin planne beraam om sy lewe met dié reistog te gedenk. Janco het gevoel dat uit dankbaarheid hy wil teruggee aan die gemeenskap. Nou doen hy dit deur sy #GeeHoop-fietstoer van 1 793 km.

“Ek is glad nie ’n fietsryer nie. Ek het vir twee jaar lank professioneel rugby vir die Border Bulldogs gespeel. Ek is wel n spinning-instrukteur, so sien kans vir lang tog. Ek het baie slaapplek wat mense my al aan gebied het op die roete. Ek beplan ook, as dit uitwerk, om by van die kinderhuise te oornag. Ek gaan die hele fietstoer weg van die huis af wees,” sê Janco.

Alisha de Lange, Solidariteit Helpende Hande se streekorganiseerder van die Suid- en Wes-Kaap, was so deur Janco se verhaal geïnspireer dat sy hom gaan ontmoet het.

“Ek het dadelik gevoel dat Helpende Hand in die Wes-Kaap met hom wil hande vat. Janco gaan met sy fietstoer op plekke kom waar ons nie noodwendig uitkom nie. Hy gaan hoop bring en dit is waarvoor Helpende Hand staan. Spesifiek by ons kinders wat ook swaarkry en soms weens die swaarkry stemloos is.  Daarom gee ons hom ons volle steun en wens ons hom voorspoed toe vir die reis. Ons sal hom ook bystaan deur te help om geld saam met hom vir die kinderhuise in te samel,” sê Alisha.

Enigiemand wat Janco finansieel wil ondersteun of navraag doen oor sy roete, kan Alisha by alisha@helpendehand.co.za e-pos. Volg ook Janco se vordering op sy Facebook-blad, GEE HOOP.