Perfekte maatskaplike storm’ broei

Uitgereik deur Solidariteit Helpende HandPhillip Bruwer

Suid-Afrika kan gereed maak vir ’n “perfekte maatskaplike storm” as die ekonomie aanhou afneem, Trump se tariewe in werking tree en die regering meer geld aan toelaes as ontwikkeling begroot en bestee.

Dit is die mening van Solidariteit Helpende Hand in reaksie op Sisisi Tolashe, minister van maatskaplike ontwikkeling, wat Donderdag haar departement se begroting aan die Nasionale Vergadering voorgelê het.

Tolashe het tydens haar voorlegging genoem altesaam R284 miljard is vir die nuwe boekjaar begroot om maatskaplike toelaes aan meer as 27 miljoen Suid-Afrikaners te betaal. Sy het bekend gemaak dat 45% persent, bykans die helfte van die land se inwoners, maatskaplike toelaes ontvang.

Die departement se totale begroting vir die nuwe boekjaar beloop R294 miljard, waarvan 96% aan die ontvangers van maatskaplike toelaes gaan. Dit beteken slegs 4% van daardie geld gaan aangewend word vir enige vorm van ontwikkeling of beplanning.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit is ’n resep vir ’n ramp en nie herstel nie.

“Hierdie syfers onderskryf presies wat Helpende Hand al lank betoog: die regering se bestuursmodel is omgekeerd en verstrengel mense in afhanklikheid eerder as om vry te groei. As jy die plan bou om noodverligting te prioritiseer, gaan jy altyd net nood hê om te verlig. As jy egter die plan bou om ekonomiese groei en werkskepping te prioritiseer, dan begin jy nood permanent uitroei,” sê Noëth.

“Wat ons eintlik sien is ’n welsynstaat wat al hoe minder ’n ontwikkelende staat is. As die regering werkskepping en ontwikkeling as sekondêr hanteer, dan word dit ook maar net sekondêr bereik en dan bly die toekoms maar net nóg ’n toelaag verder.

Noëth sê armoede gaan nie oorwin word deur mense aan almoese te laat leef nie. “Ons gaan dit oorwin deur mense in te skakel in werk, gemeenskap, en waardes. Toelaes het ’n plek, maar dit kan nie die hele plan wees nie.” Volgens Noëth het Suid-Afrika nie nog toelaes nodig nie, maar planne wat werkskepping, ekonomiese groei en beleide behels wat rigting gee, nie net verligting nie. “Dit is die enigste manier waarop ons ’n toekoms kan bou en afhanklikheid agterlaat,” sluit hy af.

Fotobyskrif: Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand

Artikel geplaas in , ,