Plaaslike wiskunde-organisasie nou amptelik deel van wêreldleiers

Solidariteit Helpende Hand se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (V.A.W.) affilieer by die wêreld se grootste Wiskunde-organisasie

Met meer as 60 000 lede en 230 vennote regoor die wêreld, is die Amerikaanse National Council of Teachers of Mathematics (NCTM) tans die wêreld se grootste Wiskunde-onderwysorganisasie. Die organisasie bestaan reeds sedert 1920 en vir die eerste keer is ’n Suid-Afrikaanse organisasie deel van dié spoggerige geledere.

Die NCTM het ’n afdeling gestig wat uitsluitlik getaak is om bande met professionele Wiskunde-onderwysverenigings in ander lande te bou. Helpende Hand se V.A.W. is te danke hieraan vanjaar amptelik by die NCTM geaffilieer. Dit maak van die V.A.W. die enigste wiskunde-organisasie in Suid-Afrika wat dié status verkry het.

Die doel van die organisasie is om:

  • inligting in professionele publikasies en die webwerf aan lede deur te gee;
  • lede van die ander organisasies wat in hul onderskeie lande woonagtig is, te nooi om hul jaarlikse konferensies by te woon;
  • ‘n komplimentêre registrasie te bied vir ‘n amptelike verteenwoordiger van die ooreenstemmende organisasie om die jaarlikse konferensie van die organisasie by te woon.

Volgens Valentyn van der Merwe van die V.A.W. is dit ’n reusegeleentheid vir hulle. “Die V.A.W. is nou in staat om nouer met die NCTM saam te werk deur die wedersydse uitruiling van kennis, navorsing en gesonde wiskundepraktyke.”

Vanjaar stuur die V.A.W. vir die sesde agtereenvolgende jaar ’n afvaardiging van vyf onderwysers en kundiges na die NCTM se nasionale kongres in San Antonio, Texas.  Die groep vertrek reeds op 3 April na die NCTM-kongres in die VSA.  Die kongresgangers sal hul nuutverworwe kennis vanjaar nog by die V.A.W. se twee kongresse op 28 en 29 Junie (in Centurion) en op 3 en 4 Julie (in Bellville) aan Afrikaanse wiskunde-onderwysers kom oordra.

Vir meer inligting oor die V.A.W. en hulle betrokkenheid by die ondersteuning van Wiskunde-onderwysers, besoek gerus www.skoolwiskunde.co.za of gesels met Valentyn van der Merwe op 084 599 9215.