As jy nooit verwag het om te verwag ná al die gewag nie!

Ek en my man was skaars ʼn jaar getroud toe ons besluit het om die Pil te los.  Die helfte van die eerste maand was nog nie eers om nie, toe koop ek al skelm ʼn swangerskaptoets. Sorgvuldig die voubiljet gelees, mooi gemik en siedaar…. negatief. Nie ʼn sweempie van ʼn tweede strepie nie. “Toemaar, hulle sê mens moet na drie dae weer toets,” het ek bly hoop, maar diep in my binneste het ek geweet daar is pleegsorgniks. Na ʼn jaar is ons na ʼn fertiliteitspesialis verwys. Nog ʼn jaar later het ek myself wysgemaak dat ek vooraf moet aanvaar daar gaan een strepie op die stokkie wees. Elke maand was die teleurstelling en hartseer maar weer net so groot. Dit het al hoe moeiliker geword om vir vriendinne wat bultmagies kry, bly te wees. Nee, ek was regtig bly vir hulle, maar ook jaloers – nie ʼn lelike jaloers nie, ʼn hartseer benyding.

Twee embriotjies (Februarie 2013)

Ná vier jaar se pille, hormone, inspuitings, ongemaklike sonars, baie trane, hormoonbuie en duisende rande se skuld het ek genoeg gehad. Nadat ons enigste twee embriotjies met In-Vitro-behandeling nie oorleef het nie en ek ernstige komplikasies ná die prosedure ontwikkel het, moes ons tot die moeilike aanvaarding kom dat ons ons waarskynlik nooit ons eie kindjie sou kon baar nie. Ons het al die behandeling, inspuitings en pille gelos en gewag om berusting te kry. Ek het alles weggegooi. Al wat ons gehou is die foto’tjie van die twee embriotjies wat ek verloor het. Twee selletjies, wat elk soos ʼn bondeltjie borreltjies lyk. Hoe sou hulle gelyk het? Wie se tone? Wie se neus?

Ek het myself maar in my werk verdiep en gehoop dat die mamma-instink een of ander tyd ʼn stille dood sou sterf. Dit is iets wat mense nie verstaan nie. Dit is ʼn biologiese liggie wat aangaan. ʼn Fisiese behoefte aan ʼn baba –en daar is nie ʼn af-knoppie daarvoor nie.

Ons kry ʼn Prinses (Mei 2013)

Op die Vrydag voor moedersdag daardie jaar, kry ons ʼn onverwagse oproep. Dis my kollega by die werk se ma – ‘n senior maatskaplike werkster – hulle het ‘n sesjarige dogtertjie wat daardie dag nog ‘n plek van veiligheid benodig. Pleegsorg sal moontlik volg. Dit neem my en my man net ʼn paar minute om “ja” te sê. Ek het vinnig bietjie nagelees oor pleegsorg en inderhaas is die studeerkamer van ons tweeslaapkamer-plekkie in ‘n dogtertjiekamer omskep en met geleende beddegoed opgetof. Daar was geen twyfel in my hart nie. Die Here het haar vir ons bedoel. Sy het ons nodig en ons vir haar. En so teen vyfuur se kant was daar ‘n maerige, skaam dogtertjie met hartseer ogies en dowwe haartjies in ons huis… haar besittings in swartsakke en haar glimlaggie is skaam en dapper, maar dit raak nie aan haar ogies nie, merk ek dadelik op. Sy het pragtige ogies – blou, soos myne.

Daardie Sondag, moedersdag, is ek ook ʼn mamma. En hoewel ek uit my vel wou spring van opgewondenheid, was daar nie ʼn selfgemaakte moedersdagkaartjie en koffie in die bed daardie Sondagoggend nie, want hierdie mamma moes eers haar titel verdien. By ʼn dogtertjie wat op ses reeds baie meer moes beleef en sien as wat baie grootmense in flieks laat ril. ʼn Gewelddadige pa, dwelms, ʼn dramatiese gyselaarsdrama waaruit sy self moes ontsnap, Nigeriërs wat reeds vliegtuigkaartjies bekom het om haar Lagos toe te neem – vol dwelms gepomp sou sy waarskynlik een van die duisende kinderprostitute in dié land word. Blou-oog dogtertjies is in dié land ʼn delicacy. En sy verlang na haar eie mamma, wat ondanks haar eie tekortkominge en foute, gebroke haar bes gedoen het om die mensie te versorg en te beskerm. Sy is bang vir haar nuwe pappa – eintlik alle mans. Ons neem haar nie kwalik nie. Ek sit saans wanneer sy bad by haar op die vloer. Dit word ons gesels-tyd. Sy vertel van die swartes in hulle huis. Sy ken hulle name. Die wit gif wat mamma in klein sakkies in haar sak hou. Ons besef dat prioriteit nommer een is om hierdie dogtertjie veilig te laat voel. Ons praat met die familie, die skool, die kerk en vriende. Ons span ʼn laer van liefde en gesonde grense en bid.

Die eerste paar maande is maar taai. Sy is in graad een en reeds in haar derde skool vir die jaar. Van lees is daar nog nie sprake nie. Ons swoeg elke middag en aand deur die huiswerk. Plak die hele huis vol woordjies. Deel belonings uit. Lees stories. Tel karre en borde en blare.

Dit is drie maande later. Die haartjies blink en die wangetjies is pienk. Die laggie raak-raak al aan haar oë. En haar nuwe pappa mag haar al hoog in die lug gooi en help boomklim in die parkie. Sy sukkel met skuldgevoel, kom ons agter. Omdat dit vir haar lekker is by ons. Sy voel sy verraai haar mamma.

Ons is nog “tannie” en “oom”. Ons los haar en vertou dit sal vanself kom. Praat maar net van pappa en mamma. Dit gaan goed by die skool. Prinses kry al vywe – ons is so trots!

ʼn Dapper vegtertjie  (Augustus 2013)

Ek dink niks daarvan toe die maatskaplike werkster bel nie. Dit is ʼn winderige Augustus-dag. Ek verwag dit half – sy het gesê die hofsaak waartydens Prinses se pleegsorgbevel afgehandel sal word, kom nou een of ander tyd voor. “Daar is ʼn dogtertjie in ʼn babahuis in Capital Park” sê sy. “Agtien maande oud. In Steve Biko gelos met gebreekte beentjies; ma weg…. Nigeriërs…” die stem druis aan, maar ek kan niks hoor nie, want die trane stroom al klaar… “sien julle kans om haar te vat?” eindig sy. “Wanneer kan ons haar kom oplaai?” vra ek.

Die nuus versprei soos ʼn veldbrand by die werk. Nog voor ek kon wonder waar die kleintjie die aand gaan slaap, word my kantoor skielik gevul met pragtige kleertjies, doeke, wet wipes, bottels en formule, ʼn karstoeltjie, ʼn kampkot en selfs ʼn stootwaentjie. Die volgende middag stap ek by die babahuis uit met ʼn pragtige krulkopdogtertjie op die heup. Nadat ek haar by die babahuis opgetel het, wou sy nie weer neergesit wees nie.  Sy glimlag nie, merk ek op, druk net kort-kort die koppie in my nek. Maar die ogies is wakker en kyk belangstellend rond. Bruin ogies… soos manlief sin. Ons ry by die babahuis weg met ʼn pragtige krulkopdogtertjie. ʼn Klein fontein-poniestertjie op die kop. Een gehekelde kombersie, ʼn kliniekkaart en die kleertjies aan haar lyf.

Ons weet steeds nie veel van hierdie dapper klein vegtertjie se lewe voor die hospitaal nie. Ons weet die mamma is ʼn dwelmslaaf, die pappa onbekend. Ons weet net sy is op ongeveer 14 maande met albei beentjies gebreek, deur ʼn barmhartige samaritaan by Steve Biko-hospitaal aangebring. Ses weke in traksie gelê. Niemand het haar ooit kom soek nie. Toe sy ontslaan kon word, is maatskaplike dienste gebel en genadiglik het sy by die wonderlike babahuis in Capital Park geland. Daar het sy vinnig weer leer loop – gemotiveer deur die ander wikkelende lyfies in die huis. En nou is sy by ons.

Ons nuwe gesinnetjie beleef skielik ʼn paar groeipyne. Prinses is maar bietjie jaloers op Bokkie, maar hou tog daarvan om te help met die kleertjies uitkies en bad. Ons val in ʼn nuwe roetine. Saans is dit kosmaak, huiswerk, bad, wasgoed – ʼn wonderlike gejaagdheid en geraas waarmee net kindertjies ʼn huis kan vul.

O die goeie tyding  (Desember 2013)

Ons gaan kuier een aand by my hoogswanger vriendin sodat ek kan toesig hou dat sy uiteindelik haar hospitaaltas pak. Sy gooi my speels met ʼn oorblywende swangerskaptoets. “Ek gaan dit nie weer nodig kry nie,” sê sy. “Ek ook nie,” dink ek, maar druk dit in gedagte in my handsak.

Dit is 9 Desember 2013. Daar heers groot opgewondenheid in die huis oor die Kersvakansie. Ons is in ʼn goeie roetine en die jaar lê byna op sy rug. Die kinders sien vreeslik uit dat mamma en pappa nou klaar moet werk, want ons gaan plaas toe én see toe. Ek gaan koop ʼn groter handsak wat sommer as strand- en doeksak kan dien tydens die vakansie. Dié aand pak ek my handsakinhoud oor in die nuwe sak en ontdek weer die toetsstokkie. “Wel, ek kan dit seker net sowel gebruik voor ek dit weggooi,” dink ek. Vir die eerste keer piepie ek op ʼn swangerskaptoets sonder enige verwagting. Soos die klammigheid versprei is daar ook, soos verwag een strepie en ek gooi dit dadelik in die asblik, haastig, want Bokkie roep uit haar kamer. ʼn Paar minute later, besef ek vir die hoeveelste keer ek het al weer nie my blaas ordentlik laat leegloop nie. My oog val op die stokkie in die asblik. Ek tel dit op… Kan dit wees? Wat ʼn wrede grap dat ek nou ʼn foutiewe stokkie moet kry. Daar is dan ʼn dowwe tweede strepie!? Kan dit wees? “NEE!” waarsku my hart. “Dit is beslis ʼn fout”, maar die opgewondenheid kry tog die oorhand.” Ek neem ʼn foto van die stokkie en stuur dit vir swanger vriendin met ʼn boodskap… “Raai wat..?”

Die volgende oggend vergesel sy en nog ʼn vriendin my na die patoloë. My huisdokter het gevra hulle moet dringend die uitslae stuur, maar dit is naderhand twaalfuur. Ek aanvaar dit is seker maar negatief. Dié dat hulle nie haastig is om te laat weet nie. Ek is in die werk se laslappiekoor en dit is minute voor ons moet gaan sing toe die telefoon lui. “Sit jy?” vra sy. “Agge nee, ek het geweet” sê ek. “Jy is swanger,” sê sy in trane. “Jy lieg!” sê ek. My mond hang oop van verbasing. Ek bel my man. My ma. My skoonma. Die gevoel in my bene is weg en die trane begin rol toe ek oomblikke later “O die goeie tyding!” op die verhoog sing. My kollegas loer onderlangs na my en huil saam toe ek die tyding deel.

Die volheidsgetal (Mei 2015)

Dit is Mei 2015. My derde moedersdag. Ons is terug van ons eerste gesinsvakansie. Grotgekruip, trampolien gespring, piekniek gehou en dinosourusse bekyk. Ek en manlief is al meer as ʼn jaar nie meer “oom” en “tannie” nie. Bokkie is in die kleuterskool en die slimste in die klas en Prinses het vergeet wat die swartes se name was.

Daar is koffie in die bed en ʼn handgemaakte kaartjie met ʼn pers blom daarop. Want ek is nou ʼn mamma.

Liewe mamma
Geluk met moedersdag
Dankie dat jy my groot maak en versorg
en onthou ek is lief vir jou
Dankie dat jy vir my alles gee wat ek vra en ʼn skool.
Dankie vir my speelgoed
en die goed in my kamer

Ek kyk terug en sê vandag dankie. Dankie dat God beter weet as ek. Dat God meer gee as waarvoor mens vra, maar op Sy tyd. God het tweetjies geneem en twee gegee en toe… ook ʼn derde. Drie. Die volheidsgetal. Die volmaakte getal. Soos Hy. Drie-enig. Drie dogtertjies in een jaar. Net om te wys. Niks is by God onmoontlik nie. Die wag is dalk moeilik; voel dikwels onmoontlik, maar tog elke oomblik werd.