Skip to content

Projek om meisies se selfwaarde te bevorder open vir 2017

Die #HelpHanna-projek wil meisies met sanitêre ware bemagtig om daarmee seker te maak hulle kry die nodige skoolopleiding en selfvertroue om suksesvol te wees. Hierdie projek het verlede jaar aan meer as 3 700 meisies in 130 skole sanitêre ware verskaf en is nou oop vir aansoeke in 2017.

Helpende Hand wil skole en ander instansies aanmoedig om aansoek te doen, sodat meisies regoor die land gehelp kan word. Laer- en hoërskole, kinderhuise, pleeghuise, nasorgsentrums en ander instansies wat hulp nodig het, kan aansoek doen! Aansoeke is tot 20 Februarie 2017 oop. Besoek www.helphanna.co.za.

Solidariteit Helpende Hand het die projek in 2015 geloods nadat studies getoon het dat meer as 10% van meisies in Afrikaanse skole nie oor genoeg sanitêre ware beskik om deur die maand te kom nie. Daarby mis tot soveel as 7% van meisies skool omdat hulle verleentheid wil vermy.

Volgens Michellé Burger, die projekorganiseerder, het die tekort aan sanitêre ware nie net ’n negatiewe uitwerking op hulle akademiese prestasie nie, maar beïnvloed dit ook die meisies se selfwaarde en selfvertroue. “Die projek het ten doel om sanitêre ware aan meisies wat dit nie kan bekostig nie te verskaf, maar ook om meisies se selfwaarde en selfvertroue te bevorder,” sê Burger.

“Terugvoer van skole wat reeds in 2015 en 2016 gebaat het by die projek is dat daar ’n duidelike verbetering is in meisies se skoolbywoning, asook meisies se selfvertroue en bereidwilligheid om vorentoe te kom indien hulle ’n tekort aan die produkte het.”

Lede van die publiek kan tot die projek bydra deur te help met insamelings of skenkings.

Jy kan ook help om by te dra tot die meisies se selfvertroue en om seker te maak hulle hoef nie skool te mis weens ʼn tekort aan sanitêre produkte nie. SMS die woord ‘helphanna’ na 38969 en maak ’n bydra tot ’n Hanna-pakkie wat help om meisies in die skool te hou. SMS’e kos R10. Vir meer inligting oor die projek en hoe om betrokke te raak en ook by die projek te baat, besoek www.helphanna.co.za.