Projekte met Hart – Julie

DESPATCH

Nagenoeg 70 bejaardes word bederf met heerlike middagete, verversings en die rolprent “Die Erfgenaam”. Hierdie suksesvolle, jaarlikse projek word al die afgelope vier jaar gehou en die bejaardes kan gewoonlik nie wag vir die volgende Rolprentdag nie. Jongmense word ook betrek by die dag en 12 Hoërskool-leerlinge het help kos bedien, rolstoele aanry en verversings bedien.

Marieta Stander woon ‘n ABCD-werkswinkel by en leer hoe om die positiewe bate-beginsel, eerder as die negatiewe behoeftes-beginsel, in te span om volhoubaar armoede te voorkom in die gemeenskap sowel as die individu.

HUMANSDORP

‘n Bejaarde dame was voorsien van onderklere en nagklere, nadat sy onverwags in die hospitaal opgeneem is. Die tannie is intussen oorlede en die tak het bystand aan haar familie verleen met betrekking tot die begrafnis. Nie betaal daarvoor maar saam met die seun reggestaan om vriende en familie te onthaal na die begrafnisdiens.

‘n Graad 9 dogter word deur die tak ondersteun met koshuisfooie by Hoërskool Nico Malan. Die pleegsorg waar sy tuisgaan kan as gevolg van omstandighede nie die dogter verder versorg nie en koshuis was ‘n goeie alternatief. Die dogter toon potensiaal in verskeie sportsoorte en die tak glo dat sy nog groot hoogtes gaan bereik met die regte leiding en ondersteuning.

JEFFREYSBAAI

Die bejaarde mammas en oumas van Amala Gesondheidsorg in Jeffreysbaai word vir Moedersdag bederf met verversings en elke ouma kry ‘n armbandjie gemaak met tolletjie gebreide wol.

Die bejaarde manne van Amala Gesondheidsorg is bederf vir Vadersdag en het die heerlikste eetgoedjies gekry wat met soveel liefde deur vrywilligers voorberei is. ‘n Boksie gevul met soet en sout om van te kus en keur. Wat is Vadersdag dan nou ook sonder ‘n stukkie biltong en droëwors? Dankie aan elke donateur vir die skenkings van eetgoed.

UITENHAGE

Die tak en Ons Winkel in Uitenhage hou ‘n modeparade waar klere uit die winkel gemodelleer word. Die modelle is gereelde Ons Winkel besoekers en kon die klere hou. Die gaste is bederf met die heerlikste middagete en het meer te hore gekom van Helpende Hand projekte asook terugvoer oor die tak se werksaamhede die afgelope jaar.

‘n Sop & Sjerrie Bingo-aand is gehou by Rosa Munch Ouetehuis in Uitenhage op ‘n heerlike wintersaand in Junie. Die tak weet nie wie het dit die meeste geniet nie, hulle of die bejaardes? En wat is die meeste geniet… die Bingo speel? Die sop? Volgens die breë glimlagte met die uitdeel van die sjerrie, wil dit voorkom asof dit die wenner van die aand was!

CRADOCK

‘n Netwerk-funksie is in Cradock gehou en al was daar nie baie belangstellendes nie is die tak versterk met nuwe ondersteuners en komitee lede. Soms is minder nie noodwendig sleg nie, dit gaan meer oor die regte hande wat met passie kan raakvat! Goeie netwerkverhoudings is ook die aand begin.

SOMERSET-OOS

Op ‘n yskoue Dinsdagaand in die mooie Somerset-Oos, is daar oor Helpende Hand gesels en netwerk verhoudings gebou oor ‘n glasie rooiwyn.  Die tak se komitee is versterk met nuwe ondersteuners en blink nuwe projekte uitgedink.

JANSENVILLE

Die beminde Jennifer Zamudio het in Mei opgetree in Jansenville as deel van ‘n fondsinsameling vir Huis Welverdiend en Whitlock’s Care Centre. Helpende Hand kry ‘n spreekbeurt en werwing word gedoen sodat die ouetehuis deur middel van die Takbefondsingsplan ook fondse kan kry.

Huis Welverdiend word besoek deur Hannes Noëth, Uitvoerende Hoof van Helpende Hand en Christia Potgieter en Antionette Deyzel, Helpende Hand se maatskaplike werkers asook Marlene Basson – Oos Kaapstreeksorganiseerder. Mussies en sokkies gebrei deur vrywilligers van Boknesstrand en Despatch word uitgedeel aan die bejaardes en daar eers groot opgewondenheid onder veral die ooms wat ‘n grappie of twee maak met musse tot laag onder die ken getrek. Die tannies kan nie wag om te smul aan die heerlike tuisgebakte koekies gebak en ingevoer vanaf Despatch.

PORT ELIZABETH

Helpende Hand is instrumenteel in die ondersteuning en werkverskaffing aan twee persone in Port Elizabeth. ‘n Baie desperate pappa kry sommer vinnig werk nadat sy CV deur die tak aan kontakte gestuur is asook na Werknet. Nou kan hy vir sy vrou en 3 kinders sorg sonder om in ander se oë te kyk. Hy betuig sy dankbaarheid met hierdie pragtige whatsapp-boodskap: Hallo. Ek moes jou net laat weet het dat ek reg gekom het met werk, ek het vandag begin. Dankie dat jy een van die superheroes is wat Ons positief gehou het.

Die tak het ‘n Pretdag gehou in Theescombe PE waar daar heerlik baljaar is en ook bemarking vir Helpende Hand gedoen is. ‘n Springkasteel, ‘n 11-jarige platejoggie en heerlike eet- en drinkgoed was op die spyskaart. Daar was stalletjies waar mense tuisgemaakte produkte soos onder andere slaaisouse, popklere en kolwyntjies kon verkoop vir ‘n inkomste.

MIDDELBURG (Oos-Kaap)

Die Middelburgers het in hul nommers opgetrek na ‘n Netwerk-funksie gereël deur die plaaslike Helpende Hand tak. Goeie verhoudingsbande is gesmee en so groei en brei Helpende Hand sy voetspoor uit in selfs die kleinste gemeenskappe soos Middelburg.

HENNENMAN: RUSHOF HOENDER

Die bestuur besluit om maandeliks vir Tannie Hester Moolman wat kos maak vir Rushof se mense, R500 se hoendervleis te skenk.  Rushof is die plaaslike ouetehuis en daar is 50 – 60 mense waarvoor tannie Hester 3 dae per week kos kook.  Elke ete se bestanddele kos sowat R700.  Ons voel hierdie klein skenking sal haar ‘n entjie verder kan bring.  Hulle gee ook vir behoeftige inwoners die ete gratis – ons ondersteuning maak dit beslis vir hulle makliker om die mense te help.

BLOEMFONTEIN-SUID: SKOOLSKOENE

Die Bloemfontein-suid tak het besluit om 22 pare skool skoene te skenk aan gesinne wat nie skoolskoene kan bekostig vir die winter nie. Hulle het navorsing by die skool gedoen en 16 huisgesinne uitgesonder wat baie swaar kry en nie skoolskoene kan bekostig vir hulle kinders nie. Hulle begroot R1930 om die skool skoene teen ‘n spesiale prys aan te koop.

BLOEMFONTEIN VIA: VERJAARSDAGWENSE 103 EN 104

Saterdag die 12de Mei  het die Bloemfonteinse Vrouetak onder leiding van Tammy Morey, twee spesiale inwoners van Siesta Aftree-oord gaan gelukwens met hulle verjaarsdae. Tannie Naude het in die week 104 geword en Tannie van Der Sjide het Sondag 103 geword. Daar is heerlik saam met hulle gekuier en sommer ook aan die ander inwoners Kolwyntjies uitgedeel vir Moedersdag.  Maryna en haar lede van Dan Pienaar Buurtwag het ook sommer die middag saam met ons kom kuier.

Tammy en Nola van die Bloemfontein Via-tak het gaan besoek aflê by Siësta aftree-oord om gesiggies op 3 bejaardes se gesiggies te laat. Tannie Naude (104), Van Der Sjide (103) en Mouton Het elkeen n handgebreide teddiebeer gekry.

BLOEMFONTEIN OMGEE: DR VISSER SAP EN SERPE

Hester Bekker van die Bloemfontein Omgee tak het sap by Pioneer Foods as skenking gekry. Die tak het besluit om die sap te gaan uitdeel by behoeftige gesinne asook van die sap te skenk vir Dr Visser se kosblikkie-projek.

Die Bloemfontein Via tak het 85 gebreide serpe as skenking ontvang van ʼn brei-groep (Tannie Elizabeth en haar span) van Westerbloem aftree oord. Die tak besluit om die serpe te gaan uitdeel by Dr. Visserskool vir minderbevoorregte kinders.

REDDERSBURG: QUAD BIKE EN DAMUITSTAPPIE

Loanda Gouws voorsitter van die Reddersburg tak het besluit om ʼn paar kinders van die Reddersburg Kinderhuis vir ʼn uitstappie na die dam te neem. Daar het sy en ʼn paar vriende hulle bederf met koeldrank, skyfies en lekkergoedpakkies. Daar is geen Eft nie.

Loanda Gouws die takvoorsitter van die Reddersburg tak het besluit om Sondag die 13 Mei die meisies van Reddersburg kinderhuis uit te vat op ʼn Quad bike uitstappie. Hulle het die baan van die hoërskool daarvoor gebruik. Hulle is ook bederf met koeldrank, skyfies en lekkergoed.

MIDDELBURG (MPUMALANGA)

Solidariteit Helpende Hand Middelburgtak het in Mei konsert gehou met Touch of Class. By hierdie geleentheid het ons ons Helpjag-veldtog bekendgestel.  By die konsert het ons eerste jagter Bernè Smith sy eerste bok geskenk wat 50 kg vleis is en die is geskenk aan Wondershoek Kinderhawe in Junie.
Ons as Middelburgtak is dankbaar vir die skenking en wil graag ander jagters aanmoedig om deel te neem aan hierdie veldtog.

Ook het hierdie konsert ons in staat gestel om in Junie R25 000 in ons Studentefonds te plaas.

KRUISGENERASIE: KEVIN LEO BEDERF VIR BEJAARDES

Die Helpende hand span, Kruisgenerasie en Passievolle vroue van Jesus het gehelp om die dag moontlik te maak. Die Kruisgenerasie Kerk was tot oorlopens vol met bejaardes uit ons gemeenskap wat kom luister het na die bekende Kevin Leo. Hierdie was deel van Kevin se gratis nasionale optredes vir bejaardes.
Elke bejaarde is ontvang met n vriendelike gesiggie, ‘n warm koppie sop en ‘n vars brood rolletjie. Daar is ook lekker bederfies wat bestaan uit lekkergoedpakkies en serpe uitgedeel aan ons bejaardes.