Projekte met Hart – Junie

Hier is die nuutste Projekte met Hart uit Helpende Hand se trotse vrywilligers!

Mpumalanga-streek

Bethal-tak

Laerskool HM Swart se landsdiens in samewerking met Solidariteit Helpende Hand Bethal tak het speelgoed bymekaar gemaak en geskenk aan Ons Winkel Bethal.

Rozelle du Preez het koopbewys van Wimpy gekry vir die meeste speelgoed geskenk.

Onderberg-tak

Paashaas en die kinderbeskermingsweek projek saam SAPD.

Bennie boekwurm lees projek is ook nog aan die gang. Onderberg-tak se grootste projek sovêr is die kookkos vir skool kinders.

Laeveld-tak

Laeveld-tak is besig met ‘n Projek vir fondsinsameling vir Antoine Dingle-  Ons het ‘n inkleurkompetisie gehardloop by Kleuterskole in Witrivier-  R20-00 ‘n inskrywing- en die mooiste prentjie per ouderdom het ‘n prys gewen.  Spur- Wimpy en Milky Lane vouchers-    Met ‘n skenking wat ons ontvang het van marshmallow cupcake mix het ons besluit om vir elke kleuterskool en sy personeel te gaan bederf, Vrydag – 25 Mei –  Die gelukkige wenners het hul pryse ontvang en elke kind het ‘n cupcake gekry.

Party kinders het gevra “Waar is my koevertjie tannie”- Gelukkig kon ons vir elkeen ‘n cupcake gee om te troos.  Heerlik gewees om die tydjie saam met die kinders  te geniet-  Mondjies vuil – en lekker krummels gemors- eet het ons ge-eet.

Ons het R 3 920-00 ingesamel met die inkleurkompetisie.

Witbank-tak

Die Witbank-tak wou graag van die oupas in ons gemeenskap bietjie bederf en hulle iets gee om na uit te sien.  Hulle  het 6 oupas van Moth Cottages bederf deur hulle te vat om te gaan rugby kyk. Willem Strauss, President van die Blou Bulle, het ‘n skenking van 14 kaartjies gemaak vir die wedstryd – Bulls teen die Brumbies – op Loftus wat plaasgevind het op 26 Mei 2018. Romans Pizza het koeldrank vir die geleentheid geskenk en André Trollip van Clewer Sand het hul bussie met hul bestuurder gratis die dag beskikbaar gestel. Hygienic Slaghuis het wors geskenk, Preeshini Anirudh van Touch of Gold en Ferdie Prinsloo van Itech het elk 6 braaipakkies geskenk. Drie van die bestuurslede van Solidariteit Helpende Hand Witbank tak se mans het die oupas vergesel  en voor en na die tyd vir hulle gebraai en saamgekuier. Almal het die dag terdeë geniet.

Ons Spreekkamer – Witbank

Solidariteit Helpende Hand Ons Spreekkamer het op 28 Mei 2018 ons senior burgers so bietjie bederf by die Gholfbaan. Hulle kon self met die gholf karretjies ry en onder ‘n groot boom bietjie koek en tee geniet. Daar is niks mooier om die opregte dankbaarheid op elkeen se gesigte te kon sien. Dankie vir die voorreg om die dag saam met julle kon deel. Spesiale dankie aan Sarel van Heerden en Annemarie van Heerden van Carts 4U (PTY) Ltd, vir die eet- en drinkgoedjies asook die gratis gebruik van die gholfkarretjies, en Witbank Gholfklub vir hul beskikbaarstelling van die gholfbaan.

Middelburg-tak

Die Middelburg-tak het n Bosveldfees aangebied met ander takke wat ook ingeskryf en ondersteun het. Annemarie van Heerden het ‘n praatjie daar gelewer en ondersteuners gewerf, sowel as HelpJag-skenkings gekry.

Wes- en Suid-Kaap se Streek

Wes- & Suid-Kaapstreek

Wes- & Suid-Kaapstreek vat hande met Hoërskool Outeniqua in George.  Die Impak leerders van die skool gaan ‘n fietswedren einde Junie doen vanaf George tot in Worcester om fondse in te samel vir leerders wat minderbevoorreg is.  Hou die Facebook-blaaie dop vir meer inligting.

Malmesbury

Ons beplan om ‘n Ons Winkel in Malmesbury oop te maak.  Indien jy dalk belangstel om jou CV in te stuur of van iemand weet wat moontlik sal belangstel, kontak ons gerus by alisha@helpendehand.co.za

Kraaifontein en Strand-tak

Ons Winkels Kraaifontein en Strand asook die Strand-tak het met ‘n Kostrollieprojek in Brackenfell 20 trollies vol kos ingesamel. Die bekende rugbyspeler Cassie Carstens het ook hand bygesit en gehelp om die trollies vol kosskenkings te kry.  Dit was ‘n groot sukses.