Regsom of linksom, hiérdie is SA se beste koeksisters

 

Solidariteit Helpende Hand se Stoofstories: Koeksisterkompetisie het bakkers van heinde en verre gelok, insluitend drie voormalige Huletts-koeksisterwenners en ’n bakker van Koekedoor-faam. Die wenners is egter Oom Willa en Tannie Johanna Rademeyer van Parys.

Die Rademeyers woon in ʼn aftreeoord in Parys en bak elke week sowat 50 kg koeksisters. Hulle is ʼn gedugte span wat al jare lank saamwerk om ʼn ekstra geldjie te verdien. Die oorspronklike resep kom van ʼn koeksisterbakkery in Vanderbijlpark. Willa maak die stroop en deeg aan, terwyl Johanna seker maak dat die koeksisters se kleur eksie-perfeksie is. Al twee is ewe lief vir vleg, maar daar is ’n effense verskil in hulle metodes wat net ’n ware koeksisterkenner sal raaksien.

”Ek vleg regs om”, sê Oom Willa, ”en die tannie links om”. Tannie Johanna sal stry dat sy regs om vleg en hy links om vleg. Maar hoe jy ook al na die koeksisters kyk, hulle is op hulle beste as jy een (of drie!) eet.

Stoofstories het in Mei vanjaar begin om die land se beste koeksister op te spoor. Die finaliste, wat van reg oor die land gekom het, se koeksisters is by die Hazelwood-kosmark in Pretoria deur ’n paneel van beoordelaars van die Vroue Landbou-unie (VLU) beoordeel.

Die wenners ontvang ’n kontantprys en hulle resep gaan gebruik word as deel van ʼn werkskeppingsprojek in Pretoria-Wes, waar die koeksisters by die groot maat gebak en versprei gaan word.

In die tweede plek was Christa Dormehl van Amanzimtoti en derde plek het aan Julianna Griessel van Heidelberg gegaan. Die markgunsteling was Gerda Swanepoel van Ermelo, wat bekendheid verower het as finalis in KykNet se Koekedoor vroeër vanjaar.

Vir meer inligting oor die kompetisie, en om die ander finaliste te sien, besoek gerus www.stoofstories.co.za of skakel vir Anel du Preez, projekbestuurder, by 012 644 4390.

Fotobyskrif (v.l.n.r.): Oom Willa, Anel du Preez en tannie Johanna.