Riana Nel ambassadeur vir behoeftiges

Honderde behoeftige graadeens wat twaalf jaar gelede landwyd ten volle toegeruste skooltasse ontvang het, gaan volgende jaar matriek toe.

“Sonder ’n tassie en skryfbehoeftes in graadeen sou matriek dalk nooit vir van dié kinders moontlik gewees het nie,” sê die Afrikaanse sanger Riana Nel, wat ’n ambassadeur is van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassieprojek.

Riana het onlangs sakelui van Gauteng tydens ‘n sakeontbyt by Leriba Hotel in Centurion toegespreek in ’n poging om broodnodige fondse vir die projek, wat in 2007 van stapel gestuur is, in te samel. Nagenoeg R1,7 miljoen is nodig om te sorg dat 5 000 behoeftige graadeens in 2019 hand aan hand met hul skoolmaats hul skoolloopbaan betree.

Die inhoud van die tassies sluit onder meer die volgende in: ’n boekie met Bybelstories, uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, pennesakkies en penne. Die waarde van die tassie met sy inhoud is ongeveer R380.

“Ek is ‘n skrywer, kunstenaar en digter. Ek doen ook grafiese ontwerp, skets en skilder. My kreatiewe loopbaan en bestaan het by ’n potlood en kryte begin, wat ek bevoorreg genoeg was om van my ouers af te kon ontvang,” sê Nel.

“Ek is ’n ambassadeur vir die Skooltassieprojek want iets so klein soos ’n potlood, gepaard met geloof, kan ’n groot inpak op ’n lewe hê en ’n kind se kreatiwiteit aanwakker. Ek is ’n kunstenaars wat trots is om te sê my kern is Jesus. Hy leef in my en bepaal wat ek doen. Hy en daai potloot het dit reggekry dat my boodskap vandag miljoene mense kan bereik en ek glo talle van die kinders wat by dié projek baat se boodskap gaan ook eendag miljoene mense bereik en inspireer.”

Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het tydens die geleentheid aan sakelui gesê die Skooltassieprojek is een van dié liefdadigheidsorganisasie se “malste projekte” wat tans bedryf word.

 “Uit ‘n sakeoogpunt maak dit regtig finansieel nie sin om so baie geld op een projek te spandeer nie,” sê Noëth.

“Die druk is soms groot om die projek te stop en die R1,7 miljoen vir iets anders aan te wend. Mense vra ook hoekom ons nie goedkoper tasse vir die graadeens opmaak nie, maar ons wil seker maak elke kind kry net die beste wat hy of sy verdien, net soos hul maatjies wat meer bevoorreg is. Niemand mag uitstaan nie,” voeg hy by.

Noëth benadruk alhoewel dié Helpende Hand se “malste” projek is en die druk bestaan om dit te staak, gaan dit nie gebeur nie. “Ons sal net harder werk om die geld in te samel want ons weet dit is nodig om armoede te help verlig en bied dit die volgende generasie die geleentheid om vorentoe te gaan – toegerus met ’n skooltas en gewapen met die woord van God.”

Noëth het tydens die geleentheid Finesse-tydskrif en Carpe Diem Media bedank wat die Bybelstoriesboeke borg.

Die publiek wat Helpende Hand wil ondersteun in dié projek, kan die woord TASSIE SMS na 38969. SMS’e kos R10. Of besoek helpendehand.co.za/skooltassie om ’n skenking te maak.