SA stuur op welsynstaat af
Solidariteit Helpende Hand spreek diepe kommer uit oor die land se toenemende afhanklikheid van maatskaplike toelaes, soos uiteengesit in minister Enoch Godongwana se begrotingstoespraak vir 2025. Die regering se totale besteding aan maatskaplike toelaes sal na verwagting van R285 miljard in die komende finansiële jaar tot R313 miljard in 2027-’28 styg. Dit is ‘n skerp toename wat ‘n ernstige vraag laat ontstaan oor die volhoubaarheid van hierdie model.
Die nasionale tesourie se besluit om R35,2 miljard bykomend opsy te sit vir die verlenging van die Covid-19-verwante toelaag van R370 per maand tot Maart 2026, en moontlik daarna, verhoog hierdie kommer verder. Sowat 8,7 miljoen mense sal na verwagting daaruit voordeel trek. Die gemiddelde jaarlikse verhoging in maatskaplike toelaes oor die laaste drie begrotingsjare is 5,3%; dit is meer as die inflasiekoers. Dit plaas verdere druk op die staatskas en bevestig die beweging na ‘n welsynstaat.
Die verhoging van BTW met 0,5% in 2025/26 en nog eens met 0,5% in 2026/27 sal die koste van lewensonderhoud verhoog. Arm huishoudings spandeer die grootste deel van hul inkomste aan basiese goedere wat gewoonlik aan BTW onderhewig is. Hierdie verhoging sal dus ‘n regstreekse negatiewe impak hê op hul koopkrag.
Alhoewel die regering die lys van BTW-vrygestelde voedselitems uitgebrei het, sal die algemene BTW-verhoging steeds die prys van ander noodsaaklike items verhoog en voedselsekuriteit so verder ondermyn.
“Solidariteit Helpende Hand staan vir volhoubare ontwikkelingsplanne en gemeenskapsontwikkeling, en dis vir ons hartseer dat die regering weereens soveel moeite doen om amper half te spog oor toelaes wat selfs bo inflasie verhoog word. Op die oog af stuur dit ‘n mooi boodskap na die armes en kwesbare groepe toe, maar in die praktyk maak dit ons al meer ‘n welsynstaat,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Noëth sê die regering het ook nie voldoende gefokus op ekonomiese groei en werkskepping nie. Die toewysing van R8,2 miljard oor drie jaar vir die verhoging van maatskaplike toelaes – insluitend ‘n verhoging van R130 per maand vir bejaardes, militêre veterane en mense met gestremdhede – wys hoe die regering toelaes eerder as ekonomiese ontwikkeling prioritiseer. Die pleegsorgtoelae verhoog in April met R70 tot R1 250 per maand en die kindertoelae met R30 tot R560 per maand.
“Ons bly bekommerd dat ‘n welsynstaat ons almal armer gaan maak in plaas daarvan om die ekonomie te laat groei,” voeg Noëth by. “Die regering se beleid van verhoogde afhanklikheid van toelaes skep nie werklik geleenthede vir mense om uit armoede te ontsnap nie – dit hou hulle net vasgevang in afhanklikheid.”
Helpende Hand glo die enigste volhoubare manier om die siklus van armoede te verbreek, lê in welstand wat deur werkskepping en selfstandigheid bevorder word, nie deur afhanklikheid van welsyn nie. Opleiding en die skep van werksgeleenthede is die sleutels tot voorspoed, en die regering behoort sy fokus hierop te rig.
//Einde
Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand
Phillip Bruwer
Mediaskakelbeampte
Tel.: 012 111 8360
Sel: 081 374 5043 E-pos: [email protected]