SA Universiteite: Só vergelyk pryse

Stefan Pieterse

’n Navorsingsverslag deur Solidariteit Helpende Hand se Studiefondsentrum (SFS) toon dat die koste van sekere studierigtings jou bykans dubbel dit van (dieselfde studierigting) by ander universiteite uit die sak kan jaag.

Stefan Pieterse, hoof van SFS, raai dus voornemende studente en hul ouers of voogde aan om hul huiswerk noukeurig te doen as daar na die tersiêre instellings van hul keuses gekyk word.

“’n BCom-graad by die Universiteit van Kaapstad kos bykans dubbel dit van dieselfde graad by die Universiteit van die Vrystaat, terwyl ’n LLB-graad by een universiteit bykans R20 000 duurder per jaar, as dieselfde graad by ’n ander universiteit kos” het Pieterse gesê.

Pieterse het die volgende uiteensetting van die akademiese kostes per jaar, per graadkursus gemaak.

   Universiteit BA BCom BEng LLB
Universiteit van Kaapstad R54 635 R60 436 R61 220 R54 350
Universiteit van Witwatersrand R44 807 R46 795 R56 658 R46 445
Universiteit van Stellenbosch R42 599 R48 639 R55 296 R47270
Universiteit van Pretoria R34 333 R39 375 R47 444 R40 500
Universiteit van Johannesburg R39 580 R40 500 R47 520 R36 880
Noordwes-Universiteit R39 300 R39 300 R49 900 R39 125
Universiteit van die Vrystaat R32 250 R33 050 R38 200 R35 300

Die akademiese koste per graadkursus (2018)

“Uit die bogemelde navorsing blyk dit duidelik dat die die Universiteit van Kaapstad die duurste  per gemiddeld is, met die Universiteit van die Vrystaat die bekostigbaarste,” het Pieterse gesê.

Dit is egter nie net koste per kursus wat voornemende studente in ag moet neem wanneer hulle op ’n tersiêre instelling moet besluit nie.

“Veldtogte soos #FeesMustFall, #AfrikaansMustFall, onveilige kampusse, die afskaffing van gesonde studentetradisies en die opvlam van die vierde industriële rewolusie (4IR) is besig om tradisionele universiteitswese soos ons dit ken vir altyd te verander,” voeg Pieterse by.

Studente wil vry en veilig en voorspoedig wees, maar ook iewers behoort waar hul kultuur en taal gekoester word. “Hulle wil ook meer van rekenaar- en internettegnologie gebruik kan maak om te kan studeer. Dit verklaar die enorme groei by tersiêre instellings soos Akademia,” het Pieterse afgesluit.