Tassies uitgedeel by Laerskool Tzaneen

Die jaar het met groot opwinding vir die graadeens by Laerskool Tzaneen begin. Dié skool is een van meer as 60 skole landwyd wat gelukkig genoeg is om deel uit te maak van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassieprojek.

 

Die Skooltassieprojek poog om ʼn onmisbare bydrae in kinders se lewens te maak en behoeftige graadeens regoor die land in staat te stel om hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats te begin.

Die inhoud van die tassies sluit onder andere uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, pennesakkies en ʼn witbord met penne, in. Die waarde van die tassie met sy inhoud is ongeveer R380.

Volgens Riekie Smit, takvoorsitter van die Tzaneen-tak het die tekort aan skryfbehoeftes breedvoerige gevolge op die opvoeding van kinders. “Hierdie tekort dra by tot swak leesvermoëns en moet daadwerklik aangespreek word indien daar ʼn verbetering in die leesvermoë van kinders gaan kom,” sê Smit.

“Die Skooltassie-projek is tweeledig. Op die korttermyn verlig dit ekonomiese druk regoor die land, maar op die langtermyn spreek dié projek leesvaardighede aan deur die leesboekie wat in die tassie is. Kinders moet kan lees om te kan leer.”

Helpende Hand het vanjaar ongeveer 4 600 tassies uitgedeel. Meer as 170 skole regoor die land het aansoek gedoen vir tassies. Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur die woord “Tassie” te SMS na 34599 (SMS kos R2).

Vir meer inligting oor die Tzaneen-tak, kontak gerus vir Riekie Smit by  082 929 8781.