Selfdoodvoorkoming: Kom ons verander die gesprek

Selfdoodvoorkoming: Kom ons verander die gesprek

10 September is Wêreldselfdoodvoorkomingsdag. Op daardie dag word wêreldwyd bewustheid geskep van selfdood en die belangrikheid van die voorkoming daarvan. Die dag word deur die International Association for Suicide Prevention (IASP), in samewerking met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), gekoördineer.

Die tema vir 2024-2026 is "Changing the Narrative on Suicide". Dit nooi ons uit om die gesprek oor selfdood te verander – van stilte en skaamte na begrip, openheid en ondersteuning.

Meer as net statistiek

Selfdood raak mense van alle ouderdomme, geslagte en agtergronde. Volgens die WGO sterf meer as 720 000 mense jaarliks weens selfdood; dit kom neer op ongeveer een selfdood elke 40 sekondes. Dit is die derde grootste oorsaak van dood wêreldwyd onder jongmense tussen 15 en 29 jaar.

Agter elke statistiek is daar egter 'n mens, 'n familie en 'n gemeenskap. Die emosionele impak van selfdood of 'n selfdoodpoging het 'n reuse-impak op die betrokke familie en vriende en in die meeste gevalle is dit trauma wat baie diep sny en vir jare voortduur.

Voorkoming begin by ons

Selfdood is nié onvermydelik nie – dit kan voorkom word. Voorkoming is egter nie iets wat slegs tydens 'n krisis gebeur nie. Dit begin met die bou van positiewe gemeenskappe waarin mense voel dat hulle hoort, waardevol is en ondersteuning kan ontvang.

Soms kan iets wat eenvoudig lyk 'n groot verskil maak: 'n mens wat bereid is om te luister, 'n eerlike gesprek, 'n daad van omgee of bloot om teenwoordig te wees wanneer iemand swaarkry.

Dit is daarom belangrik dat ons die stigma rondom geestesgesondheid en selfdood help afbreek. Wanneer mense veilig voel om oor hul emosies en probleme te praat, is hulle meer geneig om hulp te soek en ondersteuning te aanvaar.

Die WGO se LIVE LIFE-inisiatief beklemtoon vier belangrike areas van selfdoodvoorkoming: om toegang tot selfdoodmiddels te beperk, verantwoordelike beriggewing deur die media te bevorder, sosiaal-emosionele vaardighede by jongmense te versterk en mense wat deur selfdood of selfbesering geraak kan word vroegtydig te identifiseer en te ondersteun.

Hierdie benadering herinner ons daaraan dat selfdoodvoorkoming 'n gesamentlike verantwoordelikheid is. Dit vra samewerking tussen individue, families, gemeenskappe, instellings en die breër samelewing.

Wat kan ons doen?

Volgens dr. Catharina Boehme van die WGO kan ons almal 'n rol speel in die voorkoming van selfdood deur eenvoudig die volgende te doen:

  • Praat openlik oor die onderwerp.
  • Luister sonder om te oordeel.
  • Toon deernis en aanvaarding.
  • Reik uit.

Een gesprek kan dalk die begin wees van hoop vir iemand wat voel dat daar geen uitweg is nie.

Kom ons verander die gesprek. Selfdood is nie onvermydelik nie. Dit kan voorkom word.

 

Picture1