R38 miljoen sodat behoeftige studente kan studeer

Stefan Pieterse

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) het R38 miljoen se geldelike steun gewerf om meer as 1200 behoeftige Afrikaanssprekende studente in 2019 te help om te studeer.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van SFS, is dit die produk van harde werk en meer as 200 donateurs se oop harte en hande.“Die SFS is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand wat in 2008 van stapel gestuur is om behoeftige Afrikaanse jongmense te help om deur middel van rentevrye studielenings te studeer,” het Pieterse gesê.

“Lenings word toegestaan op die basis dat studente wat afstudeer slegs die geld moet terugbetaal wanneer hulle begin werk sonder dat enige rente of administrasiegeld gehef word. Studente wat by enige geakkrediteerde tersiêre instelling in Suid-Afrika wil gaan studeer, kan om dié lenings aansoek doen,” het hy gesê.

Volgens Pieterse werk dié model goed omdat donateurs kan sien hoe hul geld weer en weer aangewend word om ander studente te help finansier wanneer hul voorgangers afstudeer het en begin werk.

5 000ste student gehelp om te studeer

Pieterse het gesê die SFS help hierdie jaar die 5 000ste student om deur die Studiefondssentrum te studeer. Van die vele studente wat by dié inisiatief baat, is onder meer Taylor van Staden (19), ʼn kinderhuisstudent van Nylstroom wat nou in Pretoria studeer, en Navan Kyle Olivier (18) van Mount Pleasant in Hermanus.

SFS studente

Taylor van Staden (regs) en Rosarie Kemp, ‘n weldoener.

“Taylor het die grootste gedeelte van haar kinderjare in ʼn kinderhuis in Nylstroom deurgebring. Haar droom om eendag ʼn onderwyser te word kan nou waar word. Taylor vertel dat dinge nie altyd maklik was nie, sy sê ʼn mens moet maar net soos ʼn buffel jou kop laat sak en vorentoe beur,” het Pieterse bygevoeg.

Pieterse het gesê terwyl baie jongmense van Mount Pleasant nie wil of kan gaan studeer nie, het Navan ʼn groot droom. Hy wil help om arm en weerlose mense te help om te gaan studeer deur ʼn voorbeeld vir die gemeenskap te wees. Die Virseker Trust help vir Navan deur die SFS om vanjaar sy LLB-studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland te finansier.

“Met verwysing na die #FeesMustFall-beweging is Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, van mening dat tersiêre onderrig, net soos enige ander produk, slegs waarde kan hê as dit teen ʼn prys kom,” sê Pieterse.

“Gratis onderrig is nie volhoubaar nie, geld moet eerder gevind word en daarom is ons dankbaar vir elke donateur se bydrae.”

Vir meer inligting oor SFS klik hier.