Skenk-‘n-Bybel

“Juffrou, is dit my boek? Juffrou, kyk net die mooi prente van Jesus!” Rona van der Berg raak tranerig as sy vertel van die dag toe ’n graadeentjie sy kosbaarste geskenk ooit gekry het.

Rona is ’n graad 1-juffrou by Eben Dönges Primêre Skool in Bothaville.
Die skool doen elke jaar aansoek om ondersteuning by Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek.

“Helpende Hand doen regtig moeite om uit te vind wat kinders nodig het om hulle werkies te doen. Die uitdraaikryte, gom, skryfbordjie, koki’s en legkaart is luukses wat baie ouers net nie kan bekostig nie.

“Maar die een ding wat altyd eerste uitgepak word, is die kleurvolle Bybelstorieboeke.

Vir baie kinders is 52 mooiste Bybelstories regtig hulle heel eerste eie Bybel. ’n Mens se keel trek sommer toe as jy sien hoe bly hierdie boekie hulle maak.”

Oktober is skenk-‘n-Bybel-maand

Deur slegs R100 by te dra, skenk jy een van hierdie Bybelstorieboeke vir ’n skooltassie. Op dié manier kweek jy nie net ’n liefde vir lees by kinders nie, maar ook ’n liefde vir die Here wat hulle van kleins af kan koester.

Besighede se bydraes maak uiteraard ’n reuseverskil. Met R1 000, of selfs R10 000, kan ’n besigheid ’n groot aantal graadeentjies nader aan God bring! Pine Pienaar en Francois van Vuuren van AGT Sanitation het vanjaar 1 000 Bybelstorieboeke geskenk. “Dit gaan daaroor om vir kinders ’n deur oop te maak en vir hulle te wys daar is hoop en liefde in die wêreld. Miskien kom hulle uit huise waar hulle dit nie kry nie.

Ons besigheid word so geseën deur die Here,” vertel Pine en Francois. Hulle wil graag iets teruggee van die oorvloed wat hulle ontvang.

Finesse wil vanjaar seker maak dat 5 000 kinders hulle skoolloopbaan op ’n goeie noot begin en 52 mooiste Bybelstories in die skooltassies pak wat Solidariteit Helpende Hand aan die begin van volgende jaar vir graadeens gee.

Die sangeres Riana Nel is vanjaar die ambassadeur.

Die artikel is deur Voelgoed geskryf.