Skoleondersteuningsentrum skep unieke Afrikaanse-vereniging vir grondslagfase-onderwysers

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) bring vandag, 18 Oktober 2017, die Afrikaanse Grondslagfase Vereniging (AGV) op die been. Die doel van hierdie vereniging is om onderwysers wat betrokke is by grondslagfase-onderrig van Gr RR tot Gr3 te versterk tydens hierdie kritiese fase van kinders se ontwikkeling.

ʼn Honderd onderwysers van 14 skole kom vanmiddag by Laerskool Lynnwood bymekaar om die bekendstelling van die AGV by die SOS se Grondslagfase-seminaar by te woon. Die onderwysers sal ook baat by bekende sprekers soos Herman de Jong, ’n opvoedkundige sielkundige en Marthie Leach ’n dieetkundige praat oor onderwerpe soos kreatiwiteit, breinontwikkeling, positiewe dissipline en eetgewoontes wat beter prestasie verseker.

Sprekers sluit ook ervare skoolhoofde en departementshoofde in wat hul ervaring deel oor hantering van ontwikkelingstrauma, dissipline en heelbrein-ontwikkeling in die klaskamer.

Die SOS sien die toevoeging van die AGV as ʼn logiese stap om te verseker dat Afrikaanse skole, wêreldgehalte onderrig kan bied en nog vir jare gaan voortbestaan.

“Vir Afrikaners om suksesvol te wees, moet daar ’n direkte pyplyn wees vanaf grondslagfase tot tersiêre opleiding,” sê Hugo Vermeulen, hoof van die SOS. “Die beste manier om te verseker dat kinders die beste opleiding moontlik ontvang, is om hulle onderwysers – reeds van grondslagfase – te ondersteun en te versterk deur opleidingsessies soos hierdie een vandag.”

Helpende Hand besef die noodsaaklikheid van gehalte onderrig in enige samelewing en ook die enorme invloed wat onderwysers op leerlinge en hul uiteindelike sukses het. Boonop is gelukkige, goed toegeruste onderwysers se entoesiasme aansteeklik en syfer dit ongetwyfeld deur na die leerlinge.

By die SOS-verenigings se kongresse, kursusse en seminare word daar klem gelê op die holistiese professionele ontwikkeling van Afrikaanse- en Wiskundeonderwysers en nou ook op grondslagfase-onderwysers. Daar is ook reeds ver gevorder met die vestiging van verenigings vir Rekeningkunde/EBW en Wetenskap. Die opleiding behels onder andere opleiding in tegnologie asook vakinhoud om sodoende onderwysers met die nuutste onderrigmetodes te bemagtig. By die middagseminare word kundiges genader en word gedagtes uitgeruil oor gehalte onderrig in Afrikaans.

Vir meer inligting oor die AGV kontak vir Hugo Vermeulen op 012 644 4390 of stuur ‘n e-pos na [email protected]