Skooltassies maak ’n daadwerklike verskil in graadeens se lewens

’n Nuwe studie deur Solidariteit Helpende Hand ondersoek die invloed wat ’n tekort aan skryfbehoeftes op die akademiese loopbaan van graadeens het. Die resultate belig die waarde van dié organisasie se Skooltassieprojek.

Helpende Hand se Skooltassieprojek is sedert 2007 een van die organisasie se belangrikste projekte. Deur dié projek is reeds meer as 30 000 skooltasse vol skryfbehoeftes uitgedeel om behoeftige graadeens te help om op gelyke voet met hulle klasmaats te begin.

Die studie, wat beantwoord is deur onderwysers uit die 158 skole landwyd wat by die Skooltassieprojek baat, toon duidelik dat daar ’n verband is tussen armoede en swak akademiese prestasie.

Een van die grootste hindernisse wat behoeftige leerders in die gesig staar, is die stres wat ondervind word as hulle nie die regte – of selfs geen – skryfbehoeftes het nie. Onderwysers het aangedui dat hierdie leerders nie kan fokus in die klas nie en dat hulle selfvertroue ook ’n groot knou kry. Wanneer ’n leerder stres ervaar, nie fokus nie en nie die nodige selfvertroue het nie, lei dit tot ’n agterstand en veroorsaak dit dikwels dat die leerder akademies uitsak.

Onderwysers meen dat leerders reeds van so vroeg as die Grondslagfase bewus is van verskillende ekonomiese vlakke en dat hulle deur medeleerders gespot word. Die tekort aan skryfbehoeftes het gevolglik ’n negatiewe effek op die sosiale, emosionele en kognitiewe ontwikkeling van die behoeftige leerder.

Die situasie word vererger deurdat baie van die behoeftige leerders nie genoegsame ondersteuning tuis ontvang nie. Hierdie leerders kom ook baiekeer uit gebroke huis en ontvang nie genoeg liefde nie.

Die studie het verder aangedui dat sou die leerder uitsak of agterraak met hulle skoolloopbaan, hulle die agterstand baie moeilik inhaal. En in baie gevalle is dit hierdie leerders wat nie tot matriek in die skool bly nie, maar iewers langs die pad uitsak.

Die baie eenvoudige daad om tasse vir behoeftige leerders te gee het dus verreikende gevolge vir die leerders. Hulle het nou die nodige skryfbehoeftes en ervaar nie meer die stres en angstigheid wat hulle daarsonder sou gevoel het nie. En die leerders voel spesiaal, wat hulle selfvertroue verbeter.

Die Skooltassieprojek is nou in sy tiende jaar en vanjaar word 4 600 skooltassies aan behoeftige kinders oor die land heen uitgedeel. Jy kan die kinders in jou area ondersteun deur die woord “Tassie” te SMS na 38969 en betrokke te raak by die projek. ’n SMS kos R10.

Vir meer inligting, kontak Margolé Riekert, Skooltassie se projekorganiseerder, op 082 715 0508 of stuur ʼn e-pos na [email protected]

Laai die verslag hier af.