Skooltassies word weer uitgedeel

Solidariteit Helpende Hand se takke is reeds sedert die begin van die nuwe skooljaar druk besig om meer as 4 600 skooltassies uit te deel aan behoeftige graadeens in 158 skole landwyd. Een van hierdie skole is Laerskool Witpoortjie, buitekant Pretoria, waar Meyer le Roux van Buffelsfontein Baard-olie saam met die graadeens ’n poppekas gekyk het.

Helpende Hand se Skooltassieprojek is sedert 2007 een van die organisasie se vernaamste projekte. Deur die projek is meer as 30 000 skooltasse vol skryfbehoeftes uitgedeel om behoeftige graadeens te help om op gelyke voet met hulle klasmaats te begin.

Op Donderdag 12 Januarie 2017 het lede van Helpende Hand se Cappuccino’s-tak die pad na Laerskool Witpoort aangedurf, gewapen met hordes skooltassies propvol skryfbehoeftes en ander lekkernye. Daar is ’n poppekas vir die 50 graadeens aangebied om hulle te leer dat alle mense, ryk of arm, dieselfde waarde het en respek verdien.

Nadat die poppekas afgehandel is, het elke graadeen ’n pakkie eetgoed gekry wat hulle kon geniet terwyl hulle op ’n springkasteel baljaar het.

Meyer le Roux wat verlede jaar ’n 500 km-driekamp ten bate van die Skooltassieprojek gedoen het, het die tassies aan die skoolhoof, Michael Combrink, oorhandig.

Volgens die skoolhoof is daar ’n groot behoefte aan skryfbehoeftes onder baie van die leerders.

“Ons kom elke jaar agter dat daar groter nood is,” verduidelik Alisha de Lange, streeksverteenwoordiger by Helpende Hand. “Elke kind wat ons kan help, is ’n belegging in die toekoms van die kind. Ons weet die tassies maak ’n verskil in hulle lewens, want ons sien die vreugde op hulle gesiggies as hulle hul eie tassie kry.”

Vir meer inligting oor hoe om by die Skooltassieprojek betrokke te raak, kontak Alisha de Lange op 082 923 1438.