Soldeer: Die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers brei uit

Deur Valentyn van der Merwe

Die VAW het in die verlede slegs op hoërskool-wiskundeonderwysers gefokus maar het onlangs sy fokus vergroot. Die VAW bedien nou ook laerskool-wiskundeonderwysers asook tuisskoolouers en akkommodeer sodoende enigiemand wat vir kinders wiskunde moet leer.

Wie is die VAW? Die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (VAW) is ʼn projek van Solidariteit Helpende Hand en die enigste beroepsvereniging vir alle wiskundeonderwysers in Suid-Afrika.

Die VAW bied beroepsondersteuning aan Afrikaanse wiskundeonderwysers of enige persoon met ’n belang in wiskunde. Dit is in die vorm van 3-dag-Wiskundekongresse, 1-dagwiskundekursusse asook korter middagseminare.

By hierdie kongresse, kursusse en seminare word daar klem gelê op die holistiese professionele ontwikkeling van Afrikaanse wiskundeonderwysers. Die opleiding behels onder andere opleiding in tegnologie asook vakinhoud om sodoende onderwysers te bemagtig met die nuutste onderrigmetodes. By die middagseminare word kundiges genader en word gedagtes uitgeruil oor die gehalteonderrig van wiskunde in Afrikaans.

Die VAW beplan ook tans ’n GeoGebra-opleidingstoer waar onderwysers opgelei sal word om hierdie kragtige wiskundehulpmiddel in die klaskamer te gebruik om sodoende moeilike wiskundebegrippe meer effektief te kan verduidelik. GeoGebra is gratis, multiplatform- en dinamiese wiskundesagteware vir alle vlakke van onderwys, wat meetkunde, algebra, tafels, grafieke en statistiek in ‘n maklik-om-te gebruik-pakket saamvat. Dit het verskeie toekennings vir opvoedkundige sagteware in Europa en die VSA ontvang.

Vir verdere inligting besoek gerus die VAW se webblad by www.skoolwiskunde.co.za of kontak vir Valentyn van der Merwe by [email protected] of 012 644 4390.