Skip to content

Soldeer: Entrepreneurskompetisie skop weer af

Deur Karin Venter

Entrepreneurs_liggiesVandag se jongmense kom voor baie struikelblokke op die pad na die toekoms te staan. Hulle wêreld lyk baie anders as die prentjie van die verlede. Helpende Hand verstaan die realiteit waarmee ons jongmense te doen het. Ons wil daartoe bydra dat hulle nie slagoffers word nie maar as oorwinnaars in die arbeidsmark staan. As kinders van jongs af entrepreneuriese vaardighede aanleer, sal hulle die gereedskap hê om die toekoms meer suksesvol aan te pak.

Deur Helpende Hand se unieke entrepreneurskompetisie wil ons elke leerling die geleentheid bied om ʼn entrepreneursingesteldheid te ontwikkel, hul vaardighede op te skerp en meer oor die besigheidswêreld te leer.

Die opwindende videogedrewe begeleiding gaan die volgende vrae beantwoord:

  • Hoe kies ek ʼn besigheidsidee?
  • Wat het ek alles nodig om met ʼn besigheid te begin?
  • Hoe stel ek ʼn besigheidsplan op?
  • Hoe kan ek my produk of diens bemark?

Helpende Hand begelei deelnemers om na afloop van elke video ʼn gedeelte van ʼn besigheidsplan te ontwikkel sodat hul wen idee met die prysgeld kan wegstap. Skole kry ook gelykstaande wengeld om aan te wend vir Entrepreneursontwikkeling in die skool.

Pryse ter waarde van R60 000 vir wenners en hul skole!

Wat is die pryse?

  • Eerste prys: R15 000 vir wenner en hul skool
  • Tweede prys: R8 000 vir deelnemer en hul skool
  • Derde prys: R5 000 vir deelnemer en hul skool
  • Die wenner verskyn ook op KykNet Ontbytsake!

Die kompetisie bestaan uit drie fases waar finaliste deurdring na ʼn volgende rondte en sodoende toegang kry tot die materiaal vir die volgende fase. Deelname aan Fase 1 is egter oop vir enige Afrikaansmagtige leerling wat registreer.

Onderwysers kan ook die materiaal in die klaskamer gebruik en ʼn groep leerlinge laat inskryf.

Graad 6- tot 12-leerlinge kan aan die kompetisie deelneem en registrasie open op 19 Februarie 2014. Deelnemers kan by www.loopbaan.co.za registreer. Die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei 2014 en deelname is gratis.

Hoe neem jy deel?

1. Besoek http://entrepreneurs.helpendehand.co.za/
2. Kyk die video vir agtergrond
3. Registreer gratis!
4. Lees die bepalings en voorwaardes
5. Dateer jou inligting volledig op
6. Kyk die 6 begeleidingsvideo’s
7. Gebruik die gegewe templaat om jou besigheidsidee saam te stel
8. Stuur jou besigheidsidee aan ons voor 2 Mei 2014

Besluit vandag nog om beheer oor jou toekoms te neem en jouself te bemagtig met kennis. Vir volledige inligting kontak Karin Venter by 012-6444390 of [email protected]