Soldeer: Helpende Hand bied hulpverlening in Limpopo

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand het twee weke gelede ’n noodfonds op die been gebring vir Limpopo-inwoners wat deur die onlangse vloede geraak is, met spesifieke fokus op die inwoners van Bela-Bela en Lephalale.

Met fondse wat deur die SMS-lyn ontvang is, het Helpende Hand reeds twee kragopwekkers aangekoop wat aan die Warmbad Rusoord in Bela-Bela en aan SAVF Maroela Oord in Lephalale geskenk is. As gevolg van die vloede moes díe twee instansies vir lang tydperke sonder elektrisiteit klaarkom. Talle skenkings van kos, komberse en klere is ook ontvang wat deur die Helpende Hand Limpopo-takke versprei is.

ʼn Limpopo-inwoner wat van die noodfonds te hore gekom het, het Helpende Hand intussen gekontak en aangebied om ʼn plaaslike kleuterskool se muur wat inmekaar getuimel het, te vervang. Volgens die skoolhoof is dit noodsaaklik dat die muur dringend herbou word, omdat dit die kleuters van die besige pad voor die skool weghou.

Helpende Hand staan die skool tans by met verdere opruimingswerk en herstel van die vloedskade.

“Ons is onsettend dankbaar vir die bydraes wat ons reeds ontvang het,” sê Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons doen egter ʼn beroep op die publiek om steeds skenkings aan die noodfonds te maak, omdat die vloedskade baie omvattend is. Hoe meer geld ons ontvang, hoe meer mense kan ons help.”

Die publiek kan tot die noodfonds bydra deur “RAMP” na 38969 te SMS en só R10 by te dra.

Skenkings kan ook in die volgende rekening inbetaal word:

Solidariteit Helpende Hand
FNB
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Tjekrekening
Takkode: 250655
Verwysing: Noodfonds

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
E-pos: [email protected]