Soldeer: Helpende Hand bring dringende hofaansoek om Môrester-staatstoelae aan te vra

Deur Mariné Jacobs

Solidariteit Helpende Hand staan volgende week vir Môrester, ʼn niewinsgewende organisasie en plek van veiligheid in Rustenburg, by om ʼn dringende hofaansoek voor die Mafikeng hooggeregshof te bring. Die hof word gevra dat Môrester onmiddellik sy maandelikse staatstoelae vir al die kinders in sy sorg moet ontvang wat sedert sy ontstaan nie op ʼn gereelde basis betaal word nie. Die regspan sal ook versoek dat Môrester onmiddellik herregistreer word, nadat die instansie vir die afgelope ses maande geen terugvoer oor sy aansoek om herregistrasie ontvang nie. Ten spyte hiervan plaas die hof steeds kinders by die instansie.

“Helpende Hand het verlede maand sy regspan opdrag gegee om ʼn aanmaning aan die direkteur-generaal van die departement van maatskaplike ontwikkeling te stuur, asook aan die hoof van die Noord-Wes provinsiale departement vir maatskaplike ontwikkeling, om ʼn verduideliking te eis oor waarom Môrester nie sy regmatige staatstoelae ontvang nie,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Die departement het geen terugvoer op enige kommunikasie vanaf ons regspan gegee nie, net soos hy al vir ʼn geruime tyd geen terugvoer op talle vrugtelose en frustrerende pogings van Môrester se bestuur gee nie.”

Môrester het sedert sy ontstaan nog nooit op ʼn gereelde basis sy maandelikse staatstoelae ontvang soos statutêr bepaal word nie. Alhoewel die instansie sporadies lomp bedrae vanaf die departement ontvang het, is dit nie naastenby die bedrag wat hulle regtens toekom nie. Die laaste betaling wat ontvang is, was in Maart 2013.

Volgens Brink is dit teleurstellend dat die departement se slordige administrasie en oënskynlike onbevoegdheid die ongeveer 50 kinders in die instansie benadeel. “Tot op hede het die departement geen poging aangewend om die saak op ʼn vriendskaplike wyse te skik nie, en daarom het Helpende Hand geen keuse nie as om die saak voor die hof te bring om te verseker dat Môrester en die kinders in hulle sorg regverdig behandel word.”

Die departement het wel aangedui dat hy die aansoek sal opponeer.

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
E-pos: [email protected]