Skip to content

Soldeer: Helpende Hand ploeg R1,5 miljoen terug in behoeftige gemeenskappe

Solidariteit Helpende Hand
20 Februarie 2014

Deur Anel du Preez

Namate Afrikaner-armoede toeneem, raak die behoefte aan volhoubare projekte wat ʼn verskil in arm gemeenskappe maak al groter.

Solidariteit Helpende Hand kry gereeld navrae oor hoe ʼn behoefte aangespreek kan word, hoe om ʼn volhoubare projek van stapel te stuur en waar ʼn mens kapitaal kan kry om die projek te befonds. Klink die vrae bekend?

Helpende Hand wil graag aan die Helpende Hand-takke en  -ondersteuners en lede van die Solidariteit Beweging wat graag ʼn verskil in hul gemeenskappe wil maak, die geleentheid bied om juis dít te doen deur ʼn kompetisie te loods – die Projek van die Jaar.

Met dié kompetisie beantwoord ons al die vrae en maak deelnemers touwys oor hoe jy ʼn goeie projek kan saamstel wat op die verligting, voorkoming en verbreking van Afrikaner-armoede en die volhoubare bemagtiging van die Afrikaner-gemeenskap fokus.

Die aansoeke is reeds oop en sluit op 27 Maart 2014, waarna Helpende Hand die beste projekte gaan identifiseer. Van daar af werf die projekte ondersteuning vanuit hul eie gemeenskappe deur met hul plaaslike organisasies, kerke of skole te gesels oor hul projekplan.

Gemeenskappe kan vir die projekte stem deur ʼn SMS uniek aan die betrokke projek te stuur. Die gemeenskap se SMS-stemme bepaal hoeveel kapitaal die projek beskikbaar gaan hê vir die drie-maande-implementeringsfase, wat in Mei begin. As die projek 500 SMS-stemme ontvang, befonds Helpende Hand die projek met R45 000.

In Julie 2014 word die geïmplementeerde projekte geëvalueer volgens bepaalde kriteria en drie wenners word aangewys, wat dan onderskeidelik R50 000, R100 000 en R150 000 wen.

Vir meer inligting, besoek die Helpende Hand-webtuiste by www.helpendehand.co.za/projekvandiejaar of kontak Anel du Preez by [email protected].

Skryf in en help om ʼn verskil in jou gemeenskap te maak!