Skip to content

Soldeer: Helpende Hand stel Entrepreneurskompetisie in die Wes-Kaap bekend

Solidariteit Helpende Hand het verlede week verskeie Wes-Kaapse skole besoek om die organisasie se jaarlikse Entrepreneurskompetisie bekend te stel.

Karin Venter, ʼn Helpende Hand projekorganiseerder, het leerders van die kompetisie vertel en sommer bietjie kreatiewe besigheidsdenke aangewakker. “Ek is baie opgewonde om te sien watter oorspronklike besigheidsidees hierdie jaar uit die Wes-Kaap kom,” sê Venter. “Verlede jaar was ons derdeplek-wenner van Worcester af, so die Wes-Kaap het hierdie jaar ʼn titel om te verdedig!”

Johann Schweidler, ʼn leerder van H.T.S. Drostdy Hoërskool in Worcester, het verlede jaar met R3000 prysgeld vir homself en R3000 vir sy skool weggestap, nadat sy Groen Vingers- besigheid die derde plek in die kompetisie losgeslaan het.

Johann het kompos deur middel van ʼn erdwurmplaas vervaardig. Hierdie kompos het hy weer gebruik om vetplantjies te groei, wat hy by markte verkoop het. “Om die projek op papier neer te pen, het my weer laat besef wat entrepreneurskap vir my beteken en hoe ek kan verbeter,” sê Johann. “Dit was ʼn voorreg om deel te kon wees van die projek. Dit het vir my en my skool goeie blootstelling gebied.”

 

Inskrywing vir die kompetisie het reeds geopen en byna 50 leerders het alreeds vir die kompetisie geregistreer. “Ons sien baie daarna uit om hierdie jaar weer baie oulike besigheidsidees te ontvang,” sê Venter. “Verlede jaar was die kompetisie ʼn reusesukses en dit het ons aangespoor om dit vanjaar selfs op groter skaal aan te pak.”

Die kompetisie is oop vir leerlinge van graad 6 tot graad 12 en inskrywing is gratis. Die wenner kan wegstap met R15 000 om in sy of haar beplande besigheid te belê, asook R15 000 vir sy of haar skool wat die skool kan aanwend vir entrepreneursontwikkeling. Die wenner sal ook op Kyknet Ontbytsake verskyn om met sy of haar eie besigheid te spog.

Die kompetisie bestaan uit drie fases waar finaliste ná elke fase deurdring na ʼn volgende rondte en sodoende toegang kry tot die materiaal vir die volgende fase. Leerlinge kan registreer op www.loopbaan.co.za en die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei 2014. Die volledige prosedure vir inskrywings is ook op die webblad beskikbaar.

Deur hierdie kompetisie poog Helpende Hand om die probleem van werkloosheid onder die jeug aan te spreek deur hulle vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig. “Met die aanleer van entrepreneuriese vaardighede vanaf ʼn vroeë ouderdom, sal jongmense beter toegerus wees om die toekoms aan te pak. Hierdie vaardighede sal ook verseker dat ʼn agterdeur oop is as dinge in die werksplek skeefloop en dat hulle altyd ʼn Plan B sal hê,” sê Venter.

Vir enige navrae kan Karin Venter by [email protected] gekontak word.