Soldeer: Helpende Hand verleen R1,75 miljoen se hulp in platinumgordel

Mariné Jacobs

Rustenburg_1SSolidariteit Helpende Hand het oor die afgelope sewe weke R1,75 miljoen se voedsel en ander benodighede in die platinumgordel versprei en ongeveer ʼn duisend nie-stakende gesinne ondersteun.

Nadat Helpende Hand die platinumgordel in April tot ʼn gedeeltelike rampgebied verklaar het, het die organisasie begin om nie-bederfbare voedsel, vleis, vars groente en vrugte, babadoeke, formulemelk, sanitêre ware en ander benodighede in die area aan nie-stakers te versprei. ʼn Rampfonds is gestig waarin finansiële bydraes gestort kon word en ʼn beroep is op die publiek gedoen om die inwoners van Rustenburg, Mooinooi en Brits by te staan met skenkings.

“Byna sewe weke later het ons 112 ton kos versprei, benodigdhede soos babadoeke en formulemelk uitgedeel, emosionele- en skuldberading aan talle verskaf en nege skole se voedingskemas bygestaan,” sê Christine Breet, adjunk uitvoerende hoof:  Ontwikkeling. “Ongelukkig het die staking steeds nie tot ʼn einde gekom nie en sal die nood in die area dus nie gou verlig word nie. Dit is egter ʼn riem onder die hart om te sien hoe die onbaatsugtige bydraes van die publiek instroom en daarvoor is ons baie dankbaar.”

Helpende Hand het ook onlangs ʼn gemeenskapsvergadering in Rustenburg bymekaar geroep om die onderskeie organisasies se hulpleniging in die platinumgordel te bespreek en te koördineer. Alle organisasies en individue wat tans rolspelers in die verspreiding van voedsel en ander benodigdhede is, is genooi om die vergadering by te woon.Foto1

“Deur ons aksies te koördineer en te gesels oor almal se fokusgroepe en vorm van hulpleniging, kan ons almal veel doeltreffender bystand aan mense in die platinumgordel bied,” sê Breet.

“Die nood in die platinumgordel neem kommerwekkende afmetings aan. Met geen einde aan die staking op die oomblik in sig nie, doen ons ʼn beroep op almal om steeds tot die rampfonds by te dra, omdat ons voorsien dat hierdie krisis nie binnekort opgelos sal word nie.”

SMS ‘STAAKNIE’ na 38969 om R10 tot die rampfonds by te dra of besoek www.staaknie.co.za vir meer inligting.