Skip to content

Solidariteit Beweging stuur halfmiljoenrandprojek vir gehoorgestremdes van stapel

Die Solidariteit Beweging het vandag tydens ʼn bekendstellingsgeleentheid in Pretoria die laaste van ʼn halfmiljoen rand se gehoorapparate aan behoeftige gehoorgestremdes oorhandig.

Die Solidariteit Beweging het onlangs hierdie projek van stapel gestuur waardeur 25 behoeftige gehoorgestremdes van regoor die land splinternuwe gehoorapparate ontvang het. Gehoorapparate ter waarde van ʼn halfmiljoen rand is deur Impact Hearing Systems geborg. Solidariteit Helpende Hand, in samewerking met die Universiteit van Pretoria, het die ontvangers van die gehoorapparate deur middel van ʼn gehoorsiftingstoets geïdentifiseer en die Daspoortkliniek het die fasiliteite hiervoor geborg.

Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het vandag sy dankbaarheid teenoor Impact Hearing Systems uitgespreek vir die skenking van die gehoorapparate. “Impact Hearing Systems het eintlik die Solidariteit Beweging net as ʼn voertuig gebruik om hierdie projek deur te voer en sodoende het hulle mense se lewens ingrypend verander,” sê hy.

“Vir ons by Solidariteit was hierdie projek belangrik, nie net omdat dit behoeftiges op ʼn volhoubare manier ophef nie, maar ook omdat dit hulle die geleentheid bied om nou weer die arbeidsmark te betree. Baie van hierdie mense het gesukkel om werk te kry of te behou as gevolg van hulle gehoorgestremdheid.  As werknemersorganisasie is dit dus vir ons ʼn voorreg om hulle in staat te stel om weer ekonomies produktief te raak. Hierdie gehoorapparate is werklik ʼn belegging in mense se lewensgehalte en toekoms.”

Pieter Coetzee, hoof uitvoerende beampte van Impact Hearing Systems, sê dat dit vir die maatskappy belangrik is om by liefdadigheidsaksies betrokke te wees en op so manier iets aan gemeenskappe terug te gee. “By Impact Hearing Systems besef ons watter negatiewe impak ʼn gehoorgestremdheid op ʼn persoon se lewe kan hê en daarom is dit vir ons ʼn voorreg om mense te kan help wat nie finansieel in staat is om dit self te doen nie. Ons vertrou dat hierdie gehoorapparate positief sal bydra om elkeen van die ontvangers ʼn  se lewenskwaliteit aansienlik te verbeter. Vandag begin ʼn nuwe hoofstuk in hierdie mense se lewens en ons is trots om deel daarvan te wees.”

 

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
E-pos: [email protected]