Skip to content

Solidariteit dink federalisties

Deur Flip Buys
Voorsitter: Solidariteit Beweging
Hierdie artikel het in Beeld verskyn op Saterdag, 28 Februarie 2015.

Oudgenl.maj. Gert Opperman het verlede week in Beeld gesê Solidariteit is “kulturele imperialiste” wat onder meer die Voortrekker-monument wou kaap. Die beweging se voorsitter verduidelik wat hul strategie behels.

Die golwe van verandering wat ná 1994 oor die land gespoel het, het niks onaangeraak gelaat nie. Die sagte landing in die Mandela-era het dit nie so laat voel nie, maar terugskouend is die ANC-oorname gevolg deur ’n tsoenami van omwentelings. Dit was nie net ’n nuwe regering nie, maar ’n heel nuwe bedeling.

Afrikaners is nou net ’n gewone minderheid, met die normale probleme van alle minderhede elders ter wêreld. Maar Afrikaners se posisie verskil ook van ander minderhede s’n.

As groep is ons meer voorspoedig, met ’n elite van hoogs welvarende mense.

Tweedens is Afrikaners oorwegend goed geskool en opgelei, met onderliggende sukseswaardes soos entrepreneurskap en selfverantwoordelikheid.

Aan die ander kant is Afrikaners sedert 1994 ’n ongewilde en maglose minderheid wat kwalik geneem word vir die land se knellendste probleme.

Ondanks die aansprake van ’n wonderwerk-skikking, het Suid-Afrika al in die Mbeki-era ’n gewone meerderheidsregering geword. Die uitdaging gaan wees om te keer dat dit op meerderheidsoorheersing uitloop.

Die ANC het herhaaldelik duidelik gemaak die doel van sy transformasiebeleid is om beheer te neem van alle “magshefbome”, met heerskappy deur swart Afrikane as doelwit. Dit is aanvanklik nie te ernstig opgeneem nie, omdat mense gerus was dat die Grondwet hulle daarteen sou beskerm. In die proses het veral die Afrikaner-elite die grondwetlike gesag heeltemal oorskat, terwyl politieke mag heeltemal onderskat is.

Die ANC het in die grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak om die mag te kry, maar daarna sy oorweldigende politieke mag begin gebruik om sy oorspronklike doelstellings deur te dryf.

So het grondwetlike veeltaligheid prakties Engelse eentaligheid geword, het grondwetlike gelykheid in rassekwotas verander, is eiendomsreg verwater, is die meeste grondwetlike instellings deur die party gekoöpteer, en het die beleid van transformasie belangriker as die Grondwet geword. Daarby is ’n omvattende welsynstelsel ingestel, en het rasgedrewe herverdeling die onderliggende sluitsteen van beleid geword.

Daar het gevolglik ’n groeiende gaping ontstaan tussen die grondwetlike en politieke ruimte vir byvoorbeeld Afrikaanse skole en universiteite; tussen grondwetlike teorie en politieke praktyk; tussen die regering se ambisieuse doelwitte en die staat se vermoë om dit uit te voer; tussen die sentralistiese dryf van die regering teenoor die noodsaak vir die afwenteling van mag; tussen die hoë verwagtings wat die politiek geskep het en die vermoë van die ekonomie om hieraan te voldoen; en tussen die beloftes van ’n insluitende stelsel teenoor die demokratiese uitsluiting wat Afrikaners in die praktyk beleef het.

Die kruipende verstaatliking het terselfdertyd die demokratiese ruimtes waarvoor daar nog grondwetlike voorsiening is, drasties laat krimp.

Afrikaners het uiteenlopend hierop gereageer. Een groep het geëmigreer, ’n volgende het saam met Tony Leon begin “terugveg”, ’n groepie het probleme ontken of hulself by die meerderheid geskaar, terwyl ander hulle onttrek en bitterlik begin brom het.

Daarteenoor is Solidariteit se oplossingsgerigte reaksie om onsself tot ’n moderne helpmekaar-beweging te omskep, deur selfhelp-organisasies op elke belangrike gebied te stig.

Ons beweging bestaan uit ’n federasie van 18 gemeenskapsorganisasies met ’n gesamentlike ledetal wat na 300 000 op pad is.

Terselfdertyd het ons byna 25 vennootskappe met ander burgerlike instellings gesluit, soos die Rapport Onderwysfonds om Afrikaanse onderwysers op te lei, met die FAK om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder, met Fedsas om beheerliggame en skole te steun, met die Erfenisstigting om monumente te help bewaar, en met gemeenskapsradio’s om Afrikaans te bevorder.

Hierdie samewerking en konsolidasie het die lewenskragtigheid van alle betrokkenes verbeter vanweë die groter ekonomie van skaal wat dit meegebring het.

Waar dit nodig was om groot geldelike bystand te verleen, het Solidariteit soms in ruil minderheidsverteenwoordiging op direksies gekry ter wille van goeie korporatiewe regering. Ons het nie in een geval op beheer aangedring nie, omdat die vennootskappe nie deel van ons kernsake is nie.

Omdat ons glo dat die staat se sentralisme demokratiese vryheid bedreig, is die Solidariteit-beweging se plan in wese federalisties. Dit beteken ons glo aan maksimale selfstandigheid vir gemeenskappe.

Federalisme word wêreldwyd gesien as die beste antwoord teen regerings se drang om die samelewing met sentralistiese mag te oorheers. Ons strategie is om die bestaande grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid te gebruik, en om deur sterk selfhelp-organisasies groeiende selfstandigheid op elke noodsaaklike gebied te bevorder. Dit beteken nie ons stel onsself téén die staat op nie, maar dat ons die sentralistiese verstaatliking van die samelewing wil teenwerk deur die ruimtes vir die selfstandigheid van gemeenskappe te beskerm.

Daarom het Solidariteit gekeer toe Gert Opperman die Erfenisstigting onder die staat wou inskuif, omdat die stigting juis opgerig is omdat die staat ons monumente verwaarloos het. Daar was nooit sprake dat Solidariteit die Voortrekkermonument wou “oorneem” nie.

Opperman is al in 2011 deur die bekwame Sonja Lombard opgevolg, en ons werk al jare lank met haar en die ander Afrikaanse organisasies in die direksie saam, omdat almal die visie van ’n selfstandige monument deel.

Ons wil nie en kan nie vir ander Suid-Afrikaners besluit nie, maar Afrikaners se toekoms is te belangrik om aan pres. Jacob Zuma en sy regering oor te laat. Daarom aanvaar ons geesdriftig self verantwoordelikheid om ’n toekoms te help skep waarin ons as gemeenskap ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees.