Solidariteit Helpende Hand gee geboorte aan nuwe selfstandige instelling van die Solidariteit Beweging

Solidariteit Helpende Hand het geboorte gegee aan die nuutste selfstandige instelling van die Solidariteit Beweging, naamlik die Skoleondersteuningsentrum (SOS) wat vir die afgelope paar jaar onder die vlerk van Solidariteit Helpende Hand ontwikkel het.

Die uitdaging vir Afrikaanse onderwys is so groot dat die Solidariteit Beweging besluit het om ‘n eie selfstandige instelling, wat getaak word om die uitdagings die hoof te bied, te vestig en ons is baie opgewonde oor die nuwe kind in die stal van die Solidariteit Beweging.

Solidariteit Helpende Hand sal in die toekoms op maatskaplike en gemeenskapontwikkelingswerk fokus en die SOS gaan op die ontwikkeling van wêreldgehalte Afrikaanse onderwys fokus.

Op maatskaplike gebied lê daar ook reuseuitdagings vir Afrikaners voor en daar sal nuut gedink en nuwe planne gemaak moet word.

Die SOS gaan openbare skole ondersteun om uitnemend te wees, maar gaan ook met die hulp van ander vennote ‘n volledige privaat Afrikaanse onderwysaanbod ontwikkel.

Dr. Danie Brink gaan as besturende direkteur die leisels by die SOS oorneem en Hannes Noëth gaan die nuwe besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand wees.

Daar lê ʼn opwindende nuwe fase vir beide instellings voor.

Dirk Hermann
Bestuurshoof: Solidariteit Beweging

Wil jy graag 'n verskil maak?

Word 'n Solidariteit Helpende Hand ondersteuner!