Solidariteit het vandag bekend gemaak dat hy R250 000 aan die Solidariteit Beweging se Krisisfonds gaan skenk om te verseker dat mense wat onder die rampspoedige oorstromings in KwaZulu-Natal (KZN) deurgeloop het die hulp ontvang wat hulle benodig.
Volgens Solidariteit kan daar nie op die regering gesteun word om sy fondse betroubaar te bestuur nie en dit is juis diegene wat die mees behoeftig is wat die ergste ly onder die endemiese korrupsie wat die regerende party in ʼn wurggreep het. Dit is in die wete, sê Solidariteit, dat om mekaar in tye van nood by te staan ʼn belangrike deel van ons wese is. Daarom word ʼn beroep op die breë gemeenskap gedoen om te kyk of die bedrag van R250 000 verdubbel kan word deur bydraes van buite af.
“Die verwoesting wat ons regstreeks sien afspeel in KwaZulu-Natal is hartverskeurend, nie net omdat duisende daaronder ly nie, maar omdat die instansies wat daar behoort te wees om hulle by te staan nie daar is nie. Dit is in die wete dat hierdie regering se onvermoë na rampbestuur gaan oorspoel dat Solidariteit R250 000 aan die Solidariteit Beweging se Krisisfonds skenk om te verseker dat hulp diegene bereik wat dit die nodigste het,” sê dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit.
Volgens dr. Hermann bied die regering se rampbestuurmandaat eenvoudig min rede tot hoop. “Dit bly egter van kardinale belang om verligting te bring waar verwoesting gesaai is. Om seker te maak dat die daad by die woord gevoeg word, het Solidariteit Helpende Hand reeds ʼn krisisbestuurspan na KwaZulu-Natal gestuur om die omvang van die ramp en ʼn gepaste reaksie te bepaal.”
Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het Helpende Hand van sy kant af R100 000 by Solidariteit se bedrag bygedra vir hulpverlening in KwaZulu-Natal.
Solidariteit beklemtoon verder dat privaat ingryping nodig is om te verseker dat mense wel tasbare hulp ontvang. Daarom is dit belangrik dat bydraes uit die gemeenskap saam met Solidariteit se bydrae so goed en omvattend as moontlik aangewend word. Om die hulp tasbaar te maak en in die gees van verantwoordbaarheid sal deurlopend terugvoering gegee word oor hoe en in watter vorm die hulp, gebied word. Solidariteit is van mening dat hulp uit alle oorde belangrik is en verwelkom word – mits dit deur ʼn entiteit bestuur word wat van die regering verwyder is.
“Dit is wonderlik om te sien hoe mense in ʼn tyd van nood kan saamstaan, en die mense van KwaZulu-Natal het nou al die saamstaan nodig wat hul mede-Suid-Afrikaners kan bied. Die nood wat ontstaan het, is van so ʼn aard dat dit onmiddellike verligting vereis, maar daar moet terselfdertyd daaraan gedink word hoe mense gehelp gaan word om ten spyte van die ramp weer te kan aangaan. Dit is ons fokus om mense nou te help, maar ook om te bly dink oor wat die pad vorentoe inhou,” sluit dr. Hermann af.
Om bydraes tot die Solidariteit Beweging se krisisfonds te maak:
Rekeninghouer: SOLDARITEIT HELPENDE HAND
Bank: FNB
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Tak: Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing: KZN
Swift-kode: FIRN ZA JJ
Of besoek: www.krisisfonds.co.za en klik op die “krisisfonds” banier.
Phillip Bruwer
Mediaskakelbeampte
Sel: 081 374 5043
Morné Malan
Kommunikasiehoof: Solidariteit
066 224 0368