Staat dra al minder tot onderwys by, maar wil al meer voorskryf

Om onderwys van wêreldgehalte te bied, moet ons by die wêreld se bestes gaan leer

Die voorgestelde wysigingswetsontwerp op die Skolewet is heel gepas op Vrydag die dertiende gepubliseer. Wysigings aan die Skolewet sal neerkom op nasionalisering van skole. Dit sal openbare skole in Suid-Afrika omskep in staatskole, waar amptenare finale sê het oor alle sake van belang.

Mens kry die indruk dat toppresterende Afrikaanse skole die regering meer grief as wat onderpresterende skole hulle pla. Afrikaanse skole se goeie onderwys, gesonde dissipline en netjiese fasiliteite was nog altyd ‘n doring in die ANC-regering se vlees, ten spyte van die feit dat hierdie skole minimale ondersteuning van die staat ontvang. Skole se munisipale rekeninge is dikwels meer as die totale staatsubsidie wat hulle ontvang! Volgens ’n studie wat Fedsas in 2014 gedoen het, spandeer die gemiddelde skoolgeld betalende hoërskool 5% van hul inkomste op munisipale dienste, terwyl die staatsubsidie van hierdie skole slegs 3.6% van hul totale begroting is.

Die demokratiese Skolewet van 1996 gee aan skoolgemeenskappe die mag om te besluit oor hul skole se wel en weë, maar veroorsaak groot frustrasie vir outokratiese amptenare soos meneer Lesufi, wat ten alle koste hul doelwitte van radikale sosio-ekonomiese transformasie in skole wil deurvoer. Daarom wil die staat openbare skole kaap en ouers hul demokratiese reg tot inspraak ontneem.

Die Skolewet plaas egter steeds ewe gerieflik die plig op beheerliggame om “alle redelike maatreëls binne hul vermoë te tref om die hulpbronne deur die Staat voorsien aan te vul ten einde gehalte van onderwys te verhoog.” In Suid-Afrika dra die staat dus al minder tot onderwys by, maar wil al meer voorskryf en beheer.

 

Waar lê die probleem?

Voorgestelde veranderings aan wetgewing gee aan amptenare in die Onderwysdepartement se hoofkantoor mag om alleen oor aanstellings en bevorderings te besluit, sonder om skoolbeheerliggame in die saak te ken. Uitsluiting van beheerliggame uit die aanstellingsproses van skoolhoofde was presies die oorsaak waarom ouers van Roodepoort Primary, Hoërskool Kakamas en Klipspruit West High in opstand gekom het en onderrig by hierdie skole vir weke ontwrig is. Aanstellings deur staatsamptenare wat niks van die skool en skoolgemeenskap weet nie, sal tot gevolg hê dat alle skole verswak, gemeenskappe se goedgesindheid verloor word, en dat skole nog moeiliker van onderpresterende onderwysers ontslae kan raak.

Wetswysigings maak die deur oop vir die Onderwysdepartement om funksionele skole te dwing om enige hoeveelheid leerders, en  leerders van enige taalvoorkeur in te neem, tot op ‘n punt dat suksesvolle skole ook nie meer gehalte onderrig kan bied nie – ongeag die ywer van die onderwysers en bydraes van ouers om meer klasse te bou en nog personeel aan te stel!

Wysigings verplig skole om kwartaalliks, sowel as jaarliks, in die grootste detail verslag te doen oor hul huishoudelike finansies. Die LUR se toestemming moet verkry word vir uitgawes, huur ooreenkomste, en vervreemding van bates, ongeag of dit met die staat se karige subsidie of met ouers of skenkers se geld gedoen word. Daar word boonop verwag dat onderwysers op versoek hul eie – en hul lewensmaat – se persoonlike finansies aan die Departement moet verklaar.

Hierdie sentralisering van mag en toenemende voorskriftelikheid van die staat raak ook privaat skole en selfs tuisonderrig. Privaat skole sal aansienlik meer voorskrifte moet gehoorsaam voordat hulle kwalifiseer vir (baie beperkte, onvoorspelbare) staatsubsidie, terwyl die uitgerekte, onlogiese, duur proses vir registrasie van privaat skole glad nie aangespreek word nie. Selfs tuisskool-ouers sal volgens die voorgestelde wetswysigings aan moeiliker registrasie vereistes moet voldoen om wettig hulle eie kinders se eie onderwys te behartig. Om sake te vererger, word die straf om ’n skoolpligtige kind “onwettig” van skoolbywoning te weerhou, verhoog van ses maande na ses jaar!

Die gemeenskap se rol in goeie onderwys

In beginsel trek die wysigingswet ’n streep deur gemeenskappe se betrokkenheid en beperk ouers se inspraak in die onderrig van hulle kinders. Die wysigingswet druk ’n outokratiese en voorskriftelike model van staatskole op ons af, waar staatsamptenare skole voorskryf en beheer.

Twintig persent van skole in Suid-Afrika is uitnemend, natuurlik danksy roepingsgedrewe onderwysers en goeie bestuur, maar ook as gevolg van betrokke ouers. Afrikaanse skole word deur ouerbetrokkenheid gekenmerk: gemeenskapsleiers is lede van skoolbeheerliggame, ouers help geld insamel, plant gras, bou sportvelde, dra ekstra by. Sonder skoolgemeenskappe wat omgee en help waar hulle kan, is dit onmoontlik vir skole om te presteer.

Selfs in die “deep rural”-platteland, waar heelwat skole disfunksioneel is, is skole suksesvol waar gemeenskappe hul skole koester en beskerm. Sprekende voorbeelde is hiervan is Thengwe en Mbilwi Secondary School in Limpopo, wat jaar vir jaar die top 20 lys haal met hul uitstekende matriekuitslae in wiskunde en fisiese wetenskap.

Skoolgemeenskappe aanvaar eienaarskap vir skole, omdat ouers inspraak het in die onderrig van hulle kinders, deur verteenwoordiging op skoolbeheerliggame. Ouers aanvaar ook die verantwoordelikheid om hul skool se bronne aan te vul, want die Skolewet beskerm skole se reg om hul eie bates te bestuur tot voordeel van hul kinders. Sentralisering magte sal wel bydra om skole “radikaal te transformeer”, sodat alle openbare skole Engels word en alle personeel en leerders verteenwoordigend van die land se rasse-samestelling is. Dit gaan egter terselfdertyd ’n einde maak aan moedertaalonderrig en vrywillige hulp en bydraes van ouers wat tot dusvêr gehalte onderwys in alle goeie openbare skole verseker het.

Onderwys van wêreldgehalte 

Groter selfstandigheid op skoolvlak vorm wêreldwyd deel van suksesvolle onderwysstelsels. Skole se prestasie verhoog betekenisvol wanneer hulle vryheid het om self te besluit oor aanstellings, kontrakte, die akademiese program en toewysing van bronne.

In disfunksionele onderwysstelsels bestaan die vrees soms dat privatisering staatsbeheer sal beperk en dat leerders na gehalte skole sal stroom, sodat swak staatskole onderbenut agterbly. Dit lei tot politieke inmenging in skole en pogings tot sentralisering van ‘n oneffektiewe openbare onderwys stelsel, soos met die voorgestelde Wysigingswet die geval is.

As die Suid-Afrikaanse regering eerlik poog om ons onderwysstelsel te verbeter, is dit nodig dat hulle kers opsteek by die wêreld se bestes. Suksesvolle onderwysstelsels wêreldwyd wentel toenemend meer magte en verantwoordelikhede af na skole. In lande waar onderwys floreer, word openbare skole sovêr moontlik deur die staat befonds, maar grootliks selfstandig bedryf, binne ‘n vasgestelde raamwerk vir aanspreeklikheid. Selfs in arm lande waar staatshulp beperk is, speel gemeenskappe ‘n groot rol in voorsiening van onderwys. Vennootskappe tussen skole en besighede, “social franchises”, geloofsorganisasies en plaaslike gemeenskappe dra by tot gehalte onderwys in verskeie Afrika lande.

Wat kan ons doen?

Die krisis van die groot  aantal disfunksionele skole in Suid-Afrika spruit uit dekades se swak bestuur deur onderwys owerhede. Dit kan nie deur sentralisering van mag reggestel word nie. Die krag en ondersteuning van skool gemeenskappe is juis een van die sterk punte in ons onderwysstelsel, waarop gebou moet word. Daar moet egter op ‘n nuwe manier voortgebou word op die tradisie van ouers se betrokkenheid, ywer en vrygewigheid.

  • Ouergemeenskappe moet steeds om alles in hul vermoë te doen om skole se hulpbronne aan te vul om gehalte onderwys te verseker. Nuwe planne moet egter bedink word om gemeenskapsfondse steeds tot voordeel van skole aan te wend, maar onafhanklik van die skool se rekening te bestuur. Deur gebruik van onafhanklike ouerverenigings en trusts kan geld steeds in belang van die skool ingesamel word, maar diskresie oor die aanwending van hierdie fondse bly by die gemeenskap en word nie die besluit van ’n staatsamptenaar nie.
  • Die handhawing en versterking van moedertaalonderwys in openbare skole is baie belangrik. Afrikaanse gemeenskappe moet nie naïef wees om Afrikaanse openbare skole as ’n gegewe te aanvaar nie. Daar moet ook gewerk word aan planne vir die oprigting en finansiering van Afrikaanse privaat skole, wanneer dit strategies nodig word.
  • Goeie onderwysers moet seker maak hulle is onmisbaar en hul werk word beskerm. Word deel van ‘n vakvereniging wat sorg vir onderwysers se professionele ontwikkeling, byvoorbeeld die Vereeniging vir Afrikaanse Wiskunde Onderwysers, Afrikaanse Grondslagfase Vereniging of GeRAT – vir Afrikaanse taal onderwysers. Ondersteun ook Solidariteit en FEDSAS se veldtogte teen die Wysigingswet.
  • Provinsiale onderwysdepartemente sloer tans om vakante poste by skole te vul. Skoolbeheerliggame, vakbonde en beheerliggaamorganisasies moet druk plaas op provinsiale onderwysdepartemente om te verseker dat skole vakante poste gevul is teen Desember 2017.
  • Vergewis jouself van die feite. Vind uit wat die voorgestelde wysigings aan die Onderwyswet beteken en laat jou stem hoor as deel van die #VIRskole- veldtog – of jy ’n ouer, onderwyser of bekommerde lid van die gemeenskap is.

Vir die slegte om te oorwin, moet genoeg goeie mense net niks doen dit nie. Gebruik die geleentheid om voor 10 November 2017 jou mening te lug.

 

Melanie Buys is ‘n Onderwysspesialis by die Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum. Sy het onlangs haar Meestersgraad in Onderwysbestuur voltooi met navorsing oor “Privaat befondsing van openbare skole in Suid-Afrika.”

 

Kontakbesonderhede:   Melanie Buys

076 850 3157

[email protected]