
Kan jy, as jy aan jou kinderjare terugdink, onthou dat jy ooit honger moes gaan slaap? Daar is tans so baie kleuters in Suid-Afrika wat wel hartseer en honger bed toe gaan. Ons wil nie hê ons kinders moet bedelaars wees nie, en ons by Helpende Hand wil ook nie bedel om nié bedelaars van hulle te maak nié. Helpende Hand wil graag aanhou voorsien waar nodig, en steeds die kleuterskole help wat by die Kosblikkie-projek baat. Ons gaan dit doen deur selfonderhoudend te word.
Daarom is Helpende Hand opgewonde om aan te kondig dat ons die kommersiële mark betree met ’n produk van hoë gehalte, die StopHonger-proteïenontbytstafie. Deur die bemarking van hierdie produk wil ons die hongersnood onder kinders volhoubaar aanpak en terselfdertyd werkskepping aanwakker.
Die StopHonger-proteïenstafie is gebore uit ’n bekommernis dat die Kosblikkie-projek nie volhoubaar sal wees as Helpende Hand aanhoudend, én met die groeiende nood, fondse moet genereer en donasies moet insamel nie.
Aan die een kant wil ons ’n bewustheid onder die vermoënde ouer kweek dat hulle danksy hul ondersteuning van die stafie-projek indirek sorg vir dié wat nie het nie, maar aan die ander kant wil ons ook vir die vermoënde ouer se kind iets bied en dit is ’n peuselhappie van hoë gehalte om in die kosblik te pak. Só help ons mekaar en word die projek meer volhoubaar.
Agente word benodig om saam te werk en met die verkope te help. Ons wil egter ook graag hê dat die publiek die stafies vir hul gesinne moet aankoop. Die StopHonger-stafie is ’n baie mooi versinnebeelding van gemeenskapskrag en gemeenskapsgawes wat bymekaar kom om iets daar te stel wat produktief, maar ook volhoubaar is vir ons honger kleuters.
Ons wil armoede saam met jou beveg! Dit is onaanvaarbaar dat ons kleuters honger is en dit is ook onaanvaarbaar dat ons niks daaromtrent doen nie. Met die aankoop van een StopHonger-stafie, word een honger kind gevoed.